Local news

Gemeenskap rou oor bekende Laeveldse skywer se afsterwe

Die Kaapsehoop-gemeenskap is in rou gedompel ná die nuus van Alita Steenkamp, ’n geliefde inwoner en skywer, se afsterwe Donderdagoggend, 2 Mei.

Skaars vier dae nadat sy langs haar 87-jarige moeder se graf gestaan het, is die bekende Laeveldse skrywer, Alita Steenkamp (60), oorlede.

Ná ’n stryd met ovariële kanker van bykans twee jaar het sy om 09:00 op Donderdagoggend, 2 Mei, gesterf. Haar ma, Petro, is verlede week oorlede en is Maandag in Pretoria begrawe.

Alita het in dieselfde kamer in haar ouerhuis waar sy as vyfjarige gebly het, gesterf. Haar man, De Wet Potgieter, self ’n oudjoernalis en voormalige redakteur van Laevelder, was langs haar sterfbed.

Potgieter het vroeër gesê in een van die laaste boodskappe wat ‘Alitaki’, sy troetelnaam vir haar, vir hom geskryf het, het sy gesê: “Ek is moeg baklei.”

Medelye het van wyd en syd ingestroom na die nuus van haar dood bekendgemaak is.

Alita Steenkamp. > Foto: Alita Steenkamp se Facebook-blad

Jenine Coetzer, ’n goeie vriendin, skryf op Facebook: “F*kkit Alita, vanoggend vroeg bel ek jou vir sommer net, hoe gaan dit met jou na Ma se begrafnis, en jou eie lyf? Jy antwoord nie, want jy is reeds elders. Wetta laat weet jy is weg.”

Laevelders is gereeld op Alita se Facebook-blad betower deur die foto’s wat sy van haar gunstelingonderwerp, die wilde perde van Kaapsehoop, geneem het.

Haar roudiens word Dinsdag om 10:00 in die Gereformeerde Kerk gehou, waarna sy om 12:00 in die begraafplaas op Kaapsehoop begrawe sal word.

Die bekende skrywer, Dana Snyman, self ‘n oud-Laevelder joernalis, het namens Potgieter hierdie ode geskryf:

Alita Steenkamp. > Foto: Veskaf/De Wet Potgieter

Alita Steenkamp (1964 – 2024)

Jy het geweet die dood kom nader, en jy het dit ook gesê, Alita. Ons het dit probeer wegpraat met soet woorde en simpel grappies. Ons wou dit nie aanvaar nie.

Heng, jy het onlangs maar 60 geword. So jonk.
En netnou, op hierdie dag, 2 Mei van die jaar 2024 van onse Liewenheer, toe kom die WhatsApp-boodskap van De Wet Potgieter af: “Alitaki is weg.”

Alita Steenkamp, joernalis en skrywer. De Wet se vrou, dogter van oom Cas, ma van Petronell en Amanda, suster van Heleen en Francois, en ouma van Hannes, Amanda se eersteling.

Alitaki. Eers het ek gewonder hoekom noem De Wet jou só, want jy was nie ’n verkleinwoordjie-soort vrou nie. Maar toe ek julle twee middeljarige lovebirds beter op Kaapsehoop leer ken, toe besef ek jy is die een wat sagtheid in De Wet, die siniese en soms knorrige joernalis, se lewe gebring het. Ware, verkleinwoordjielose liefde.

Ek wil nie nou begin met ‘We had joy, we had fun, we had seasons in the sun’ nie: Hoe jy, Rudi en ek van ’n rusbank op Kaapsehoop af die Springbokke eiehandig gehelp het om talle toetswedstryde te wen. Hoe ons in Nagkantoor sit en jy vir De Wet vra: “Wetta, speel vir ons ‘Iets bekends’ van Robbie Wessels.” Ons favourite kroegsong. Dit en John Prine se “Speed of the Sound of Loneliness”.

Jou familie, kinders en almal wat jou geken het, sal elkeen sulke vrolike herinneringe van jou hê. Tot aan die einde het jy Habakkuk se “nogtans sal ek jubel” probeer leef.

Minder as ’n maand gelede het jy nog in jou bergtuin gegrawe en geplant, teen die winter in, toe ek by julle hek instap. Jy met jou hande vol grond en Zigi, jou dowe lyfwag, wat blaf en blaf.
En hoe trots was jy nie toe jy onlangs ouma geword het.

Eenkeer toe jy saam met De Wet Nelspruit toe is vir nóg ’n chemo-sessie, kom ek by julle huis. Net Solani Shongwe, julle huisengel, is daar. “Hoe gaan dit met jou?”

Jou familie, kinders en almal wat jou geken het, vra ek vir Solani. Toe stol die woorde in Solani se mond en sy begin huil.
Het jy enige vyande gehad, Alita? Ek twyfel. Of, nee, dalk was daar een: Jaco Peyper, die rugbyskeidsregter. Hy laat die Bulls, jou span, altyd verloor, het jy geglo.

Ek het jou naam geken voordat ek jou ontmoet het. By hoeveel artikels en stories in tydskrifte het dit nie oor die jare heen verskyn nie? Later het jy vir Stefaans Coetzee gehelp om sy boek, Wit Wolf, te skryf. Jy het onder meer ook vir Mathys Roets en Hestrie Cloete gehelp om hul lewensverhale te skryf.

Jy was ’n onrusbarende deeglike joernalis en niefiksieskrywer. Ek sien jou by die tafel in jou skryfkamer sit, besig om elke woord van ’n klankopname van ’n onderhoud wat jy met Neil Sandilands gevoer het, eers te transkibeer voor jy die storie skryf.

En dan was daar jou jeugboek, Deur die vuur, wat verlede jaar verskyn het. ’n Sagte kyk na stukkende, dapper mense en perde.
In die laaste ruk is jy deur jou eie vuur, Alita.

Die kanker wou jou nie los nie, demmit, dit wou nie, daardie gesant van die dood. Jy het swaargekry, en die verdriet het De Wet met the speed of the sound of loneliness getref. En toe sterf jou ma, tannie Petro, ’n week gelede.

Saterdagoggend het ons saam Pretoria toe gery, na tannie Petro se begrafnis toe. Rudi wat jou die bakkie inhelp, Zigi wat blaf, en die rose in jou bedding pienk en rooi en wit.

By Milly’s anderkant Machadodorp het ons stilgehou. Jy wou nie wegneemkoffie hê nie. “Kan ek ’n roomys kry?” het jy gevra.

Toe ry ons verder, jy wat ’n bakkie Steers-roomys eet, en Mozart oor die luidspekers, en herfsblare wat onder die bome langs die pad lê.
Gisteraand jy op die bed in die huis van oom Cas, jou vader, rustig asof al die liefde wat jy oral uitgedeel het jou kalmeer. De Wet op ’n stoel langs jou, jou hand in sy hand.

En toe De Wet se WhatsApp-boodskap vanoggend.

 
Back to top button