Local news

‘n Laaste insleep vir oom Rassie Erasmus van Mbombela

'n Laaste reis op die nommer 88 Western Star Van Wettens-insleepvragmotor en 'n ellelange konvooi was 'n gepaste laaste eerbetoning aan 'n staatmaker van die Laeveld, Rassie Erasmus.

Rassie Erasmus, ‘n man wie se hande en hart aan die Laeveld se paaie gewy was, het sy laaste reis op die laaibed van ’n sleepwa agter die Western Star Van Wettens-insleepvragmotor, die einste vragmotor wat immers sy tweede huis was, aangepak.

“Die wiele moet rol,” onthou Morné de Wet was een van Rassie se gunstelingsêgoed, wat sy afskeid net nóg meer gepas gemaak het.

Rassie Erasmus en Theunis van Vuuren.

Frederick Johannes Erasmus (beter bekend as ‘Rassie’) is op 7 Junie op die ouderdom van 66 dood, omring deur sy geliefdes. Hy was vir 26 jaar ‘n werknemer van Van Wettens en alombekend vir die vriendelike oom met ‘n plan. Vir sy ses kleinkinders was hy Oupa Trok.

Agter: Wally Stols, Thys van Vuuren, Rassie Erasmus en Morné de Wet. Voor: Nico Louw.

Toe die familie Rassie se wense met Janus Venter van New Era Funerals meedeel, het hy sonder om te huiwer ‘n plan gemaak en met Van Wettens in verbinding getree om hierdie spesiale afskeid ‘n moontlikheid te maak. ‘n Ellelange konvooi het agter die einste Western Star (nommer 88) vanaf Van Wettens tot by die kerk aangery – met nooddienste en reaksievoertuie wat die pad afgesper het.

Rassie Erasmus by die Longtompas-busongeluk op die R37. > Foto: Chelsea Pieterse

Sy hande het vir absoluut niks verkeerd gestaan nie – en Rassie was die eerste ou waarvoor kliënte gevra het as hulle ‘n voertuig moes laat uitsleep het.

As kinders het Rassie se vier seuns ook deel van die Van Wettens-familie gevorm – en skoolvakansies in die kantore gewerk.

LEES OOK: Geliefde Laeveldse skrywer Alita Steenkamp op Kaapsehoop ter ruste gelê

Hy is in Februarie met akute melanoïdelukemie gediagnoseer, en het ‘n klipharde stryd deur verskeie chemobehandelings geveg, sonder om een keer te kla. Hy is ná ‘n kort siekbed oorlede.

As jy met enigeen op die dorp praat, hoor jy staaltjies of opmerkings. Dr. Attie van Wyk sê: “Hy was sout van die aarde!” en Wim van Wetten, eienaar van Van Wettens, sê sy leemte gaan nog vir lank gevoel word, en dat hy vir ewig ‘n deel van die Van Wettens-familie sal wees. “Rassie was nie net ‘n gewaardeerde kollega nie, maar ook ‘n dierbare vriend vir baie van ons. Een van die mees merkwaardige eienskappe van Rassie was sy vermoë om die beste in ander uit te bring. Hy het hierdie unieke talent gehad om die sterkpunte in ander te herken en hulle aan te moedig om na groter hoogtes te streef.

“Sy entoesiasme was aansteeklik, en ek het gewoonlik die spot met hom gedryf deur te sê hy was soos ‘n bul in ‘n porseleinwinkel. Dit was nie net oor die werk gedoen kry nie; dit was om dit met passie en integriteit te doen. Rassie was ook ‘n mentor vir baie. Sy leiding het gehelp om die loopbane van ontelbare individue in ons organisasie te vorm. Sy nalatenskap sal voortleef in die professionele en persoonlike ontwikkeling van diegene wat hy gementor het.

Agter: Rassie Erasmus. Voor: Miecke, Luan, Wihan en Kilinda Erasmus.

“In die hantering van kliënte en spanlede het Rassie altyd professionaliteit en empatie getoon. Hy het verstaan dat menslike verhoudings die hart van besigheid is, en hy het dit met sorg en respek gekoester. Baie kliënte het gedeel hoe Rassie se benadering hulle gewaardeerd en gehoor laat voel het, ‘n getuienis van sy uitsonderlike interpersoonlike vaardighede.

“Maar miskien die belangrikste impak wat Rassie op ons almal gehad het, was die manier waarop hy uitdagings in die gesig gestaar het. In die aangesig van teenspoed het hy merkwaardige krag getoon. Sy vermoë om optimisties te bly en oplossings te midde van probleme te vind was nie net bewonderenswaardig nie, maar het ons ook gemotiveer om positief tydens moeilike tye te bly.”

Die Laeveld gaan ook binnekort oom Rassie se geliefde trok, die nommer 88, met sy naam op as eerbetoning sien.

Back to top button