Nelspruit- en distrikshengelklub vier sy 60ste bestaansjaar
Op 22 Junie het die Nelspruit- en distrikshengelklub sy 60ste verjaardag by die klubhuis by Marlin Pub and Grill gevier, waar van die huidige, vorige en stigterslede bymekaargekom het om die mylpaal te vier.
Die Nelspruit- en distriks-hengelklub (NDHK) is vanjaar 60 jaar oud, en hulle het dié mylpaal met groot makietie by die klub gevier, waar daar selfs van hul oudste stigterslede betrokke was.
Een van Mbombela se oudste klubs en ‘n instansie wat deur die dekades heen vas bly staan en gegroei het, is dié klub, welbekend by hengelaars van die Laeveld, maar ook so ver as die Hoëveld en die Laeveld van Limpopo.
Die klub se nederige begin strek terug na 1964 toe hengelpioniers Jimmy de Pradines, Corrie Cornelis, Eddy Duffy, Jopes van Rooyen en Hugh Abercrombie die behoefte gesien het dat Nelspruit en sy omgewing sy eie hengelklub nodig het.

Daar was oorspronklik in die vroeë jare van die klub ook ‘n varswaterafdeling, waar kurper- en tiervis-visvangkompetisies gereeld gehou is.
Daar was destyds ook ‘n vlieghengelafdeling, waartydens die manne en vrouens van die NDHK by die bekende Hoëveldse foreldamme en -strome gehengel het.
Soos tyd verloop het en daar groter behoefte ontstaan het, het die NDHK egter op diepseehengel begin fokus.
Oor die jare het meer as 30 NDHK-lede nasionale kleure in diepseehengel verdien. Vir die laaste paar dekades is die NDHK die grootste binnelandse diepseehengelklub in Suid-Afrika.

Geaffilieer met die Mpumalanga Diepseevereniging en dan ook met die SA Diepseehengelvereniging, is die klub ongelooflik trots op sy ryke en lang geskiedenis.
Vorige en huidige lede, voorsitters en selfs klubpresidente het Suid-Afrika op die hoogste vlakke gaan verteenwoordig, en daar is menige van hierdie hengelaars wat teen die res van die wêreld deelgeneem het, in lande so ver as Colombia in Suid Amerika, en wat dan as wêreldkampioene uit die stryd getree het.
Deesdae is daar juniorontwikkelingsnaweke en jetskihengelafdelings ook ingesluit. Twee groot kompetisies word ook uit die klub uit gereël, naamlik die Onderberg Spesiebonanza wat elke jaar in Barra, Mosambiek, gehou word, en dan natuurlik ook die Inhaka-kompetisie in daardie land.

Die meeste mense van Mbombela weet van die bekende Marlin Pub and Grill, maar min weet wel dat hierdie oorspronklik die kroeg van die hengelklub en sy lede was, en dat hulle dit self daar bestuur het en selfs ook kroegman en kelner gespeel het.
“Die Nelspruit- en distriks-hengelklub nooi al sy hengelvriende uit om na die lede-area, die geskiedenis teen die mure, die foto’s van opkomende jong hengelaars en dié van die wat nie meer met ons is nie te kom kyk,” het die klub se Jaco Sevenster gesê.
“Sestig jaar is ‘n lang tyd in enigiemand se boek, en die klub wil graag elke lid, vriend, medehengelaar en borg vir julle voortgesette betrokkenheid en liefde vir die plek, wat baie hengelaars net so goed soos hulle eie huise ken, bedank.”

