Mamba pik twee pitboels in Claremont dood
Slange is nou baie aktief as gevolg van die warm weer, maan een slangkenner.
Twee honde wat onlangs in ’n geveg met ’n swartmamba betrokke was, is beide doodgepik.
Adele Smith, wat op die Claremont-pad woon, sê sy het verlede Woensdag in ’n stadium gehoor haar twee pitboelkruisings blaf verwoed.
Sy het gesien dat Terra en Jock vreemd reageer, en het aanvanklik vermoed hulle is vergiftig.
Paul Swanepoel, wat al 20 jaar lank ’n herpetoloog en slangvanger is en by ACS Spartan Sekuriteit werk, is na die toneel toe.
LEES OOK: VIDEO: Troupant geniet sy slangontbyt in Krugerwildtuin
“Toe ek daar kom het ek dadelik vermoed dat die honde deur ’n swartmamba gepik is. Die honde se tonge was erg blou, en hulle was kortasem. Omdat ’n mamba se gif neurotoksien is, verlam dit die diere se spierstelsel. Veral die diafragma, wat help met asemhaling, word bykans dadelik geaffekteer. Die diere het in daardie stadium ook reeds onwillekeurig geürineer.”
Volgens Swanepoel het hy na die mamba begin soek, maar kon dit nie opspoor nie.
Smith sê hulle het later die middag gesien ’n mamba lê op die stoep.
Met Swanepoel se terugkeer het hy die slang, ’n volwasse mannetjie wat bykans 2 m lank is, agter ’n blompot gekry.
LEES OOK: Dodelikste slang in Afrika kruip toe agter herpetoloog weg
“Daar was ’n besering aan die slang se stert wat daarop dui dat die slang beslis deur die honde getakel is.”
Die slang is elders in die omgewing vrygelaat.
Volgens Smith het hulle die volgende oggend nog ’n mamba by die stoep opgemerk. Die een, vermoedelik ’n wyfie, het egter onder ’n houtdek ingeseil en kon nie opgespoor word nie.
Swanepoel sê dit is nie vreemd dat slange hierdie tyd van die jaar baie aktief raak nie.
“Die versengende hitte dra ook tot die oplewing by. Ek het verlede week binne drie dae vyf mambas in die Claremont/Uitkyk-omgewing gevang.”
Hy kan in noodgevalle by 076 547 8335 gekontak word.
Maandag het ’n inwoner ’n spoegkobra in ’n stoorkamer gevang. Dié reptiel is ook elders vrygelaat.
Chris Hobkirk, bekende slangkenner van die Mpumalanga Parke- en Toerismeraad, bevestig daar is hierdie jaar buitengewoon vroeg in die warm maande slangaktiwiteite.
Sy advies is om sover doenlik nie slange, veral giftige spesies soos mambas, Mosambiekse spoegkobras, boomslange en pofadders dood te maak nie.
Hobkirk sê die belangrikste aspekte wat in ag geneem word, is dat ’n slang nie enige mense sal aanval nie tensy dit bedreig word.
“Tree dadelik weg as jy een sien, en moet dit nie self probeer vang nie. Hou hom onder oë terwyl jy hulp ontbied.”
Hy kan by 082 372 3350 gekontak word, en sal dan een van die reptielvangspan se lede aktiveer.
KYK OOK:
@lowvelder WATCH: A two-metre-long African rock python was discovered under a couch at Tashai van Wyk’s house on the Uitkyk road in Mbombela. Video: Tashai van Wyk #snakesoftiktok #python #pythonsoftiktok #mbombela #snakesoftiktok #snakes #wildsighting
