Laevelder Roelf van Jaarsveld op 80 nog lus vir die lewe
Bekende Radio Laeveld-omroeper Roelf van Jaarsveld gesels oor oud word en Staal Burger.
Om 80 jaar jonk te word is inderdaad ’n mylpaal.
Roelf van Jaarsveld, hier in die Laeveld alombekend as Roelfie, sal op Saterdag, 1 Februarie, 80 kersies op sy verjaardagkoek doodblaas.
“Om 80 te bereik is algehele genade van ons Skepper. Soveel van my familie en geliefde vriende is reeds dood,” vertel hy.
Hy woon sedert 1994 in Mbombela, en is bekend vir sy stem as omroeper by Radio Laeveld.
Maar hoe sien hy juis die media vorentoe uitspeel met die digitale revolusie waarin ons ons bevind? Volgens hom, solank die mens nuuskierig bly, sal die media bly bestaan.

Van Jaarsveld is sedert 1965 in die mediabedryf.
“It is my whole life,” vertel hy.
Hy het ’n kleintjie dood aan aansitterige en vals mense, en is op sy gelukkigste as hy internasionale musiek op die radio kan speel.
Maar die gesprek draai vinnig in die rigting van die radiodrama van jare gelede, Staal Burger.

Tussen 1961 en 1974 was Fanus Rautenbach en Daan Retief se jeugverhaal, Staal Burger, een van die hoogtepunte op die Afrikaanse Diens van die SAUK. “Die luistertal was op daardie stadium dubbel die kyksyfer van 7de Laan,” vertel Van Jaarsveld.
Nie net het ’n volledige rolprent oor die geliefde karakter gevolg nie, maar in 2015 was dit op Aardklop se verhoog en in 2017 het Maroela Media 26 episodes vervaardig, waarin die bekende advokaat, Gerrie Nel, nogal ’n prominente rol vertolk het en groot byval by die luisteraars gehad het.

Die man wat as Staal se regtervuis bekend gestaan het, was Retief se eie bynaam vir die klankman, Van Jaarsveld, wat prominent deel van hierdie maltrap-akteurs was.
“Staal Burger se sukses het gelê in die gebruik van Afrikaanse woordspelings en vreemde karaktername, en dan veral die vuishoue waarmee die boewe gewoonlik in die stof moes byt,” vertel Van Jaarsveld.

En dis juis waar sy byklanke almal se verwagtinge oortref het.
“Elke week was dit iets anders, en die akteurs, sowel as die luisteraars, kon nie wag om te hoor hoe die volgende week gaan klink nie. Tydens een episode het die akteurs so gelag dat hulle hulle tekste neergegooi het toe Staal die boewe op die wysie van Oom Chris Blignaut se ‘Kom ons gaan blomme pluk in die vlei’ foeter!” onthou Van Jaarsveld.
Tydens Aardklop het hy die byklanke op die verhoog behartig, tot groot vermaak van die gehoor. Rautenbach se seun, Gerrit, was die regisseur en wyle Zack du Plessis het die rol van Staal gespeel.
Maroela Media se betrokkenheid in 2017 het hernieude lewe in die reeks geblaas. Roelf het 10 van die episodes self geskryf, met storielyne wat nogal in die Laeveld plaasvind, en was ook die algehele regisseur vir die hele reeks.
“Ek het ook ’n paar klein rolletjies vertolk, veral die dronk Russiese ruimtevaarder, wat vrek snaaks was. Op die ou end was 1,6 miljoen luisteraars hier en oorsee via 26 gemeenskapsradiostasies gelok. André Retief, Daan se seun, het die rol van Staal Burger vertolk.”

Van Jaarsveld is reeds die afgelope 21 jaar sedert Radio Laeveld se stigting in 2003 by hierdie gemeenskapsradio betrokke.
Uit sy pen het ook die onlangse reeks Sade van genade gekom, waarin groot name soos Kristen Raadt en wyle Johan de Kock opgetree het. Hierdie reeks is ook aan ander stasies beskikbaar gestel.
Die rolprent- en televisiebedryf het Van Jaarsveld sedert die 70’s tot die 90’s getrek. Hy was stilfotograaf, klankman, klank- en filmredigeerder, assistentregisseur en ook volle regisseur op klein televisiedramas, navorser en teksskrywer op vele dokumentêre programme, waarvan een ’n silwertoekenning in Texas ontvang het. Vir twee vollengte rolprente was hy as beste redigeerder genomineer.
Die rebel, met Will Roberts in die hoofrol, was vir hom die lekkerste, dog moeilikste produksie. Maar dit was die moeite werd, want regisseur Retief het in 1976 die Rapport Oscar vir beste rolprent ontvang!
Gedurende Van Jaarsveld se betrokkenheid by regisseurs soos Jamie Uys, Daan Retief, Johan Roets, Elmo de Witt, Philo Pieterse, Yuda Barkan, Sias Odendaal en Dirk de Villiers het hy aan 15 vollengte rolprente gewerk, waarvan vyf vir die oorsese mark vrygestel is.

Ses televisiesepiereekse asook talle dokumentêre programme, opvoedkundige films en advertensiefilms het onder sy ervare redigering beland.
Maar wat hou die toekoms vir Van Jaarsveld op sy goue ouderdom in?
“Toekoms is ’n vae begrip. Ek kan more dooi of uithou tot 110. Solank ek net asseblief kreatief gebruik kan word! Hoe gering ook al. Dalk het die tyd aangebreek dat Staal Burger, net soos Superman, ’n verjongingskuur ondergaan om weer sy ‘staal’ in hierdie tye van korrupsie en misdaad te wys. Die verlange na goeie Afrikaanse humor op radio is boonop hoog in aanvraag. Daar is nog baie spiere – dis slegs die borge wat kortkom,” sê hy.
Sy laaste boodskap aan almal in hul grys jare is kort en bondig: “Die l’e: lees, luister, loer en bly lus vir die lewe. Veral die laaste een.”
Dis Roelf van Jaarsveld.
Nie net ’n regtervuis nie, maar met radiobloed in sy are en nog baie lus vir die lewe.


































