Barberton se matrieks van 1975 hou na 50 jaar reünie
Na 50 jaar bly ’n matrikulant van 1975 se naellooprekord nog ongeëwenaard.

Die BUCO Laeveld Interhoër wat Saterdag 22 Februarie by Hoërskool Rob Ferreira aangebied gaan word, is een byeenkoms wat nie misgeloop moet word nie.
Nie net is dit die 75ste jaar dat die Laeveld-hoërskole se interhoër aangebied word nie, maar ’n oud-Barberton Hoërskool-atleet, Marna de Villiers (née Van der Burgh), wie se o. 19-dogters- 200 m-naellooprekord van 24,8 sek. ná 50 jaar steeds onverbeterd is, gaan ook daar wees.

“Hopelik is ek gelukkig genoeg om daar te wees as iemand daardie rekord verpletter,” het De Villiers, wat in September haar 68ste verjaardag vier, aan Laevelder gesê. Sy het destyds die rekord op dié einste baan by Rob Ferreira opgestel.
Hannes Davel, ‘n klasmaat van haar, is een van die organiseerders van die klas van ’75 se jaarlikse reünie.

“Ons het gedink dit sal heel gepas wees as ons hele groep ’75-matrieks daardie dag by die interhoër gaan saamtrek. In die lig van moderne afrigtingstegnieke en hulpmiddels wat oor die jare gehelp het om atlete se vertonings te verbeter, is dit baie besonders dat Marna se rekord vir 50 jaar nog kan staan.”
Davel sê hulle reünie begin reeds die Vrydagaand wanneer hulle in Mbombela gaan saamtrek. Hy sê daar is reeds sowat 50 mense wat bevestig het dat hulle dit gaan bywoon.
LEES OOK: 75th BUCO Lowveld Interhigh on the horizon
Twee van die oudste leerders van die skool wat ‘n opwagting gaan maak is Oubaas de Wit (82), wat in die 1960-matriekklas was, en Henry du Toit (85), wat in 1957 in matriek was.

Davel sê hoewel die reünie deur die klas van 1975 gereël word, het die belangstelling intussen uitgebrei en word al Hoërskool Barberton se veteraanoudskoliere en -onderwysers van 1955 tot 1985 genooi om deel van die kuierreünie te wees.

Belangstellendes wat wil bywoon kan Davel by 072 992 5440 skakel.