Innibos-span bring Fiësta-toekenning huis toe
Die Innibos Laeveld Nasionale Kunstefees het twee benoemings vir dié jaar se kykNET Fiëstas ontvang.
Die Saterdagaandbuitelugkonsert van die Innibos Laeveld Nasionale Kunstefees is gisteraand, 27 Februarie, by die kykNET Fiëstas-toekenningsgeleentheid by die Kirstenbosch Nasionale Botaniese Tuin in Kaapstad, as die beste buitelugkonsert in die kategorie: Beste Kontemporêre Musiekgedrewe Produksie vir 2024, aangewys.
Innibos het vanjaar twee Fiësta-nominasies in die kategorie losgeslaan waarvan een ook die Musikale Meander ingesluit het. Volgens Sandra Jacobs, die direkteur van dié fees, bars hulle harte van trots oor dié benoeming.

“Die span werk baie hard agter die skerms om ’n topgehalte fees op die been te bring.”
LEES OOK: GEBORG | Inniboskaartjies teen verlede jaar se pryse
Saterdagaand se buitelugkonsert, saamgestel deur Deedee en Floors Oosthuizen, onder leiding van Murray Lubbe en Adelene Niehaus en met die beligtingsontwerp deur Johan Ferreira, was weer eens ’n hoogtepunt.
Met ’n vol orkes, vuurwerke en topkunstenaars soos Karlien van Jaarsveld, Die Piesangskille, Willem Botha, Brendan Peyper, Emo Adams, Swing City en nog vele meer, was dit ’n skouspel!
Die kykNET Fiëstas vereer jaarliks sedert 2011 uitsonderlike prestasies in die uitvoerende kunste wat in die voorafgaande jaar by feeste te sien was, en Jacobs bedank hulle opreg. “Hartlik geluk aan elkeen wat met ’n Fiësta-toekenning huis toe is.”
Die Fiëstas-paneel het in 2024 sewe kunstefeeste – die KKNK, Suidoosterfees, Innibos, Vrystaat Kunstefees, Klein-Karoo Klassique, Momentum Beleggings Aardklop en die Toyota Stellenbosch Woordfees – bygewoon om al die debuutproduksies wat op die planke gebring is te sien. Ná ’n breedvoerige stemproses, wat deur ouditeure nagegaan is, is die benoemdes in die veertien kategorieë bepaal.
