Lekker aan tafel in die Laeveld
By die oewer van die rivier het die tafel in sy eenvoud en elegansie op die gaste gewag, Woensdag aand 2 Julie 2025.

Vanaf die oomblik dat gaste op die Citybug-bus geklim het, is hulle op ‘n geheimsinnige reis na ‘n plek waar tyd vir ‘n oomblik stilgestaan het geneem. Met ‘n ware celebrity-ontvangs teen sonsondergang by die Krokodilrivier, het die geleentheid begin.

Vonkelwyn het die gaste by hulle aankoms begroet, en ‘n kort stappie deur sitrusboorde het by ‘n lang, wit tafel onder die sterre geëindig – ‘n plek wat asemrowend mooi was.

By die oewer van die rivier het die tafel in sy eenvoud en elegansie op die gaste gewag. ‘n Klankbaan van betowerende musiek het die atmosfeer verder verryk.
LEES OOK: Innibos patrons urged to behave on the roads
Arno Marais op die viool, Reon van Aardt agter die vleuelklavier, Ewan le Roux op die cajón-drom, en Riana Jackson op die dwarsfluit, het saam ‘n magiese gevoel geskep.

Tussen die gesels en musiek deur is borde vol kaas, olywe en vars gebakte brood bedien, saam met ‘n keur van drankies wat sinoniem met Laeveldse gasvryheid is. Essen Eatery het vir die kos gesorg en met hulle familiestylbediening, ‘n gevoel van huislikheid en saamwees geskep.

Die spyskaart self was ‘n meesterstuk: die voorgereg van gerookte rooibok-carpaccio met parmesaansouthappie, het die eetlus aangewakker. Daarna het gerookte forel met neute, kappertjies en tamatieslaai gevolg. Lemoensorbet het die gaste se palette verfris voordat die hoofgereg – sag gebraaide beesfilet met ingelegde perskes, geroosterde soetpatats en groenteslaai met ‘n strustema op die tafel beland het.

Die nagereg was ‘n ware bederf: Portugese Pasteis de Nata, wit- en donkersjokolade-brownies, afgesluit met regte boeretroos, tee en vars gebakte koek.
Maar die aand was meer as net ‘n fees vir die sintuie – dit was ‘n hartsgebaar. Die geleentheid is ten bate van Hospice gehou, wat dié ondervinding net meer betekenisvol gemaak het.

Mariana le Roux en Charles Venter, die visiedraers agter hierdie droom, het elke element met sorg en styl saamgesnoer. Hulle het nie net ‘n onvergeetlike aand geskep nie, maar ook ‘n herinnering wat nog lank in die harte van die Laeveld sal voortleef.
