Local news

Innibos was lekker soos ‘n krêkker

Die Innibos Kunstefees se stof het gaan lê en almal sien uit na volgende jaar se feesvieringe.

Elke aspek, van die kunsuitstallings tot die klank, die produksies, die kos, die vermaak vir die kinders, en natuurlik daardie reusagtige skerm agter die hoofverhoog met SA se grootste name, is met noukeurigheid en passie saamgestel om ‘n onvergeetlike ervaring te skep.

Dié fees se sukses was die gevolg van ‘n hele jaar se beplanning, en die organiseerders en logistieke spanne het sowaar aan elke liewe detail gedink. Van doek-ruilstasies en parkering vir gestremdes, tot die terugkeer van die gewilde Stop-en-Hop-diens – die fees was toeganklik, gerieflik en gemaklik vir almal.

Die toiletgeriewe, dikwels ‘n onderskatte faktor, is meesterlik deur Loo4U bestuur, wat gesorg het dat die geriewe altyd in ‘n onberispelike skoon toestand was.

@lowvelder

‘Vlerksleep’ was lekkerlagteater uit die boonste rakke. Die gehoor het dit gate uit geniet. Die vertoning is môre om 13:00 weer op die planke in die Hoërskool Nelspruit Ouditorium. Moet dit nie misloop nie! #lefra #innibos2025

♬ original sound – Lowveld Media

Sandra Jacobs, bemarkingsbestuurder van Innibos, sê met ‘n groot glimlag dat hulle tevrede is, en alhoewel die finale syfers van hóé groot die impak op die Laeveld se ekonomie eers later bekend gemaak sal word, het sy genoem dat veral die produksiekaartjies soos soetkoek verkoop het.

Nuutjies soos die Bosmôl se nuwe uitleg was ‘n treffer en die nuwe toevoegings soos die ATKV Boeke-oase en die kunsuitstalling op die terrein, het rekordgetalle gelok. Die Afrimat Aktuele Gesprekke was ’n vars element wat, ook vanjaar vir die eerste keer op die terrein, hoëgehaltegesprekke na die feesgangers gebring het.

@lowvelder

Ouma was op pad en nou is sy hier by die Toyota Innibos Kunstefees. Die vertoning ‘Ouma is op pad’ is voor ‘n amper stampvol Hoërskool Nelspruit Ouditorium op die planke gebring en Ouma het nie teleurgestel nie. Moet nie jou kans om die vertoning môre om 09:00 by te woon, misloop nie. Kom lag saam, maar onthou jou snesies! #oumaisoppad #Laevelder #muskiet #artsfestival #mbombela #ouma #oumaisopad #muskiet #magrit

♬ original sound – Lowveld Media

Die fees se benadering tot konstante vernuwing is duidelik sigbaar in hoe elke afdeling jaarliks verfyn word ná deeglike nabetragting met die stof wat skaars gaan lê het. “Dit neem regtig ‘n jaar om alles te beplan,” voeg Sandra by.

Kindervriendelike dienste wat deur ATKV en NG Suid aangebied is, het die gesinne in staat gestel om met gemoedsrus fees te vier. Nashua se gratis Wi-Fi het konneksie vir alle feesgangers verseker, en welsynsorganisasies het veilige bêreplek vir persoonlike items gebied.

LEES OOK: Innibos 2025

Een van baie druppels wat die fees-emmer tot oorlopens laat oorloop het.

Veiligheid was ‘n prioriteit, en die operasionele bestuurder Werner Terblanche, het bevestig dat die Venue Operational Centre (VOC) glad gefunksioneer het.

Talle versoeke is hanteer, insluitend noodmediese reaksies en SAPD-intervensies, en die gladde samewerking tussen staats- en privaat instansies het verseker dat geen ernstige voorvalle aangemeld is nie.

Vrywilligers van AfriForum, die Nelspruit Concerned Citizens en die gemeenskapspolisiëringsforum, het tot ‘n veilige atmosfeer bygedra waarin kultuur sonder haakplekke kon floreer.

Volgens Andy Lubbe, feesbestuurder, was die nuwe buitelugskerm ‘n groot treffer en die eerste buitelugkonsert met dié visuele element ‘n blywende hoogtepunt.

“Bywoning het aan die verwagtinge voldoen en die weer het mooi saamgespeel om ‘n vriendelike en energieke atmosfeer te skep. Die hele span is reeds besig om te kyk waar daar in 2026 nóg verbeteringe aangebring kan word,” sê Lubbe.

Toyota as hoofborg het Innibos ondersteun en Leon Theron, die senior visepresident van bemarking, het die handelsmerk se trots uitgespreek om deel te wees van iets wat só nou verbind aan die gemeenskap, kultuur en gesin is.

Hy het uitgelig dat die meeste Suid-Afrikaners êrens ‘n herinnering of staaltjie van ‘n Toyota deel – net soos Innibos, is Toyota deel van die familie.

“Van ‘n Toyota oogpunt, was die 2025 Innibos Nasionale Kunstefees ‘n reuse-sukses. As die eerste jaar van hoofborg wees, moet ek bieg dat die entoesiasme en suiwer genot wat die skare geopenbaar het, vir ons hoog bevredigigend was. Van elke markstalletjie, die kuns- en kultuuruitstallings, tot die karnaval en indrukwekkende verhoog wat van SA se top musiekkunstenaars aangebied het – was dit ‘n fees in alle sin van die woord. Ek is trots daarop dat ons as Toyota, saam met Innibos, Mbombela inderdaad rooi geverf het – beide letterlik en figuurlik na aanvang van al die Toyota reklame rondom die feesterrein.”

Die volgende brief is aan Laevelder ge-epos: 

‘My 5 Sent’

Kom ons praat ‘n bietjie oor Innibos. Mensekinders was dit nou ‘n lekker naweek saam met duisende ander mense. Kyk die mense wat die fees organiseer moet regtig hare op die tande hê.

Hulle het aan so te sê aan alles gedink, genoeg kos en drank, genoeg stalletjies om die krediet kaarte te laat steun en kreun. Genoeg vertonings om die mense aan die gang te hou.

Jy kan glad nie sê jy was verveeld, honger of dors nie. Seker die een ding waarvan ek die meeste gehou het, is jy het jou “spot” gemerk waar jy vir die hoof vertoning wil sit en die ander het dit respekteur. Ons het in Illanga Mall gestop en daar ‘n bussie gekry.

Die drywers was ook goed in die fees gewees en ons het die hele tyd veilig gevoel. Citibug se manne was inderdaad goeie ambassadeurs vir die maatskappy. Knap gedaan manne.

Die tegniese spanne wat die hoof verhoog gedoen het is meer as net wêreldklas. Ek was verstom met al die ekstras terwyl ons kunstenaars op getree het. Van vuurwerke na die Bokke gewen het tot vlamme wat geblaas het as daar hoë note gesing was. Elke produksie was haarfyn beplan en uitgevoer.

Maar een knaap het goed my aandag getrek en dit was ‘n jong met die naam Wian. Hy is ‘n kulkunstenaar, maar sy persoonlikheid het meer my aandag getrek.

Lekker gelag vir Matie Van Graan. Van Boerboel broekies tot haar eie produksies, dit wil gedoen wees. Mel die storie verteller het Weereens die Boma Teater stamp vol gehad. Wynand Van Vollenstee het ons ‘n lewens les of twee gegee, terwyl die lagspiere ook aan die gang gehou was.

Daar was ook ander teaters waar jy kon gaan sit en luister na ons land se talent, soos die Kyk-Net en die Cell-C tente. Nêrens was ons teleurgesteld gewees nie. Jy kon ook die van die bier deur die blaas ontslae raak sonder moeite.

Oorgenoeg toilette en fasiliteite. Matte gegooi sodat die stof die minimum is, en ook nat gespyt. So hulle tot aan die sinusse gedink toe hulle die fees beplan het.

Sal ons weer gaan? Beslis ja. Sal net vroeër slaapplek bespreek wat nader is. en my eie stoel vat. Hulle plastiek stoele bietjie ongemaklik vir die ou lyf. Baie vir mense gelag wat meer tyd aan bier as vertonings gespandeer het.

En van die klere drag was regtig om van te lag.

Maar oor die al gemeen, was almal super Vriendelik. Ons het geen agressie beleef nie.

Niemand het baklei nie, en almal het goeie respek teenoor mekaar getoon.

Eenkeer ‘n jaar kom die Afrikaner bymekaar en geniet die taal sonder om geoordeel te word.

Groete

Oupa Bobbili

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Stefan de Villiers

Stefan de Villiers, based in Mbombela, Mpumalanga, is currently the Editor at Lowvelder. He brings a wealth of knowledge and experience from previous roles at Lowveld Media, such as Sports Editor, Journalist and Photographer. He started on November 1, 2013.
Back to top button