Bekende skrywer met lewensviering op Kaapsehoop gegroet
Johan Bakkes sal vir sy avontuurlustige reise en interessante stories onthou word.
Die Laeveld het onlangs afskeid van die reisiger en skrywer, C. Johan Bakkes, by Nagkantoor geneem.
Onder sy mense bekend as Johannes, was Bakkes ook ‘n ouditeur en professor in rekeningkundige bestuur aan die Universiteit van Wes-Kaapland. Hy laat sy vrou, Nanna, dogter Cara en seun Marc agter.
Johannes het die Laeveld gereeld besoek waar sy broer, Marius Bakkes – ‘n mediapraktisyn – die afgelope jare woon. Hy was ook by meer as een geleentheid ‘n gas by Innibos.

Johannes was veral lief vir Kaapsehoop en sy mense. Hier het hy ook aan die heel eerste Boeke-crawl, 20 jaar gelede, as skrywer en verteller deelgeneem.
Sy broer onthou hoe hy en sy medeskrywer, Dana Snyman, daardie aand om die rokerige kaggelvure die koue met ‘n karba OBS besweer het.
“Dit was nog voor Innibos se blikbekertjies, en menige feesganger het saam met hulle aan die tuit kom drink.”
Johannes was ook soms op besoek hier in Nelspruit en het later heelwat vriende gemaak. Hy was altyd ‘n welkome gas aan baie tafels.

Met sy mees onlangse besoek aan die Laeveld, het hy en die plaaslike joernalis, skrywer en organiseerder van Innibos se boekefees, Annemarie van der Walt, ‘n heerlike gesprek oor sy lewe en skryfwerk gevoer.
Die geleentheid is goed bygewoon – en daarom het die kroegbaas, De Wet Potgieter, aangebied om sy lewensviering by Nagkantoor te hou.
KYK: Genoeglike en humoristiese huldeblyk aan C Johan Bakkes
‘n Soortgelyke geleentheid vir sy Kaapse vriende is die vorige week in die hotel op Klapmuts buite die Paarl gehou.

By die geleentheid by Nagkantoor, is daar lekker gesels oor Johannes en sy bedrywige lewe. Vir hom wat ‘n groot liefde vir gesellige kroegies wêreldwyd gehad het, was dit die gepaste plek.
Die geleentheid is ook deur van sy vriende uit Pretoria, onder meer sy uitgewer, Nicol Stassen van Protea Boeke, bygewoon.

