Local news

Kollektiewe drama-opleiding in Laeveld-skole kom onder die kollig

Kultuurhoofde en onderwysers, wat hulself met kultuuraktiwiteite bemoei, is touwys gemaak oor die fyner kunsies van drama.

Die bevordering van die kunste in die Laeveld lê na aan die hart van Steven Schamrel van die Troupe-dramastudio.

En ná Maandag, 28 Julie, se opleidingsessie by Nelspruit Primary gaan die Laeveld se jong sterre voortaan nóg helderder skitter deur die kleiner kunsies wat hier aangeleer is.


Die sessie, wat op onderwysers gemik was, het voortgespruit uit ‘n byeenkoms in April by die botaniese tuin waar rolspelers en kultuurhoofde die behoefte uitgespreek het aan opleiding vir onderwysers wat ná skool kultuuraktiwiteite aanbied.

Onderwysers kon vooraf aandui of hulle opleiding in drama of kuns wou ontvang. ‘n Groep van 36 onderwysers van ses verskillende skole het ingeskryf en in Nelspruit Primary se saal waardevolle kennis opgedoen.


Die kollektiewe begrip van drama en teater is bespreek, en die onderwysers is prakties touwys gemaak in wat alles nodig is om ‘n produksie suksesvol op die planke te bring.

Uiteindelik gaan dit egter oor die akteurs self – wat, soos atlete, konstante opleiding en oefening van hul stemme en liggame benodig om hul beste te gee wanneer rolle vertolk word. Daar is spesifiek klem gelê op artikulasie, stemprojeksie en die vermoë om geloofwaardig in ‘n rol in te leef.


Volgens Schamrel, self ‘n oudonderwyser, was dit van meet af aan sy droom om saam met ander die kunste in die Laeveld te laat groei.

“As ‘n oud-onnie weet ek die toekoms van die kunste – in al sy vorme – lê in die hande van ons leerlinge. Met die stigting van Troupe het ek amper dadelik na kultuurhoofde van skole uitgereik, sodat ons saam kan werk om die kunste te bevorder en die toekoms daarvan in die hande van die jeug te verseker,” het hy gesê.

Vir Schamrel was dit duidelik: daar is ‘n reusebehoefte aan opleiding.

“Daar is onnies wat vreeslik graag met buitemuurse kunsaktiwiteite wil help, maar hulle weet net nie hóé om dit aan te pak nie.”


Die eerste opleidingsdag is juis uit hierdie behoefte gebore. Schamrel het die opleiding in dramatiese kunste aangebied, terwyl Karien Bosman dié in visuele kunste behartig het.

LEES OOK: Vier Laeveldse leerdersterre keer terug Mbombela toe


“Ek glo en vertrou dit was ‘n sukses. Daar was heelwat meer deelnemers as wat ons verwag het, en ek is baie opgewonde oor wat die toekoms inhou,” het Schamrel gesê.

Reeds is daar belangstelling, in verdere, meer indiepte en diverse opleiding – insluitend die afrigting van kore.

Troupe-dramastudio bedank elke deelnemer, Nelspruit Primary en Hanlie Herselman vir die gebruik van hul fasiliteite, asook Nina van Eeden vir haar harde werk en toewyding.


En net soos die artikulasie-oefening wat die groep geleer het – “The big black buck bit a big black bear” – kan Mbombela se gehore wat voortaan skoolproduksies en eisteddfods bywoon verseker wees: jong sterre gaan duideliker praat, sterker projekteer en met sprankelende stemme op die verhoog skitter.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Bertus de Bruyn

Bertus de Bruyn is based in Mbombela, Mpumalanga. De Bruyn has been employed by Caxton since 2009. After a short sabbatical of two years, De Bruyn is back at the place he called home, Caxton, at Lowveld Media. He is currently the digital content manager, but has 14 years of journalism skills, news editor, and acting editor duties behind his name.
Back to top button