Poësienaweek in die berg: ’n Digterlike belewenis om te onthou
Om oor die poësiewerkswinkel te berig, het die skrywer gemeen dit is paslik om dit self in poësievorm te vertel.
Touwys gemaak inni-kaap
Die perkoleerder drup-drup
Kaapsehoop Gastehuis – omhul ryk kaffeïen-aroma
sestien penkoppe gegroepeer, lag en klets uitbundig saam
Prof Bernard – gerekende, en Odendaal is sy van
staan Vrydagoggend gereed om die Innibos Boekenaweek nèt so in te lei…
‘Poësie en die skryf daarvan’ sy kennis met digters te kweek – en hul met ondervinding te leer, hou nooit jou potlood lui!
Ja, al sy kennis was daar en byderhand
Odendaal, buitengewone prof-woord-guru hý
Verknog aan navorsing
‘Met Tale en Letterkunde in Suid-Afrikaanse Konteks’
met selfs twee pennevrugte uit sy pen wat op boekrakke verskyn
Langpad stap hy saam die ATKV, wat hierdie skryfskool lei
en Nita Cronjé, ‘n ATKV-nooi, het hom só beskryf
Sestien sit toe daar
Opgekommandeer met teks en handleiding en reg om te leer
Selfs ‘n ATKV-skryfboekie was ook daar
Om neer te pen, dit vir hul, wat prof gaan openbaar
Maar die vloer word met intrapslag oopgemaak
en elk penkop moes hulself, sit of staan, voorstel maak
en ook hulle laaste pennevrug openbaar
Sandra Jacobs van Innibos-faam was ook daar,
Lag soos altyd, uitbundig saam…
“Woorde en kreatiwiteit lê my na aan die hart” – bieg sy
En prof val weg …
“ja ons almal is hier om digkuns bietjie op te tof”
Jannes Erasmus – nou kyk hier kom toe ‘n ding
jongste man, maar net 19,
tot hier gereis –
Oud-Laevelder, maar nou ‘n Eswatini-man
griffel mos woorde as vryskut-resensent
en toe sy mond oopgaan met sy laaste pennevrug,
word almal stil
oor die woorde wat dié jong skrywer kwytraak in bewondering
“Ek is maar nog ‘n groentjie” – uiter die nou-Swaziland-man
Prof Bernard lag en kug –
“‘n Skrywer bly ‘n skrywer en ‘n groentjie sal almal bly.”
Pitkos-woorde vir die skrywersiel, en jou potlood moet altyd skerper bly!
Daar word toe weggeval,
om meer te leer om woord en rym reg te laat val
Om te dig, mentor prof toe voort,
“is om dromend te bespiegel oor woord en klankakkoord
Stemmingsoomblikke verbeeld in beeldspraak
is poësie dan ook soms monologies van aard
(Daarom dus is ek juis hier in poësie aan woord)
Enjambement en sesuur, woord vir woord bespreek
stille nabetragting, ja, leer almal hier
‘n gedig is die lewe se ritme
en poësie ‘n taal wat vertel
Lê emosie op woord ook op elke klem
Benutting van patrone en kontoere en woorde
versreëls en strofes
selfs tipografie…
Taalgebruik en beeldspraak en verbeeldingryke teks
Dan is daardie pennevrug moontlik gereed om van jou
‘n *grafomanie te maak
Insiggewend was die oggend,
gewis, ja dit was
Maar prof maak dit toe ook duidelik
dat geen gedig sommer net ontstaan
En verduidelik toe soos volg:
“Om te skryf is om te skryf en oor te skryf.”
Kritiek, begin prof sy riglyn, is opbouend nimmer neerhalend
hou moed en hou aan skryf
Drie-en-ander half uur was toe verby
en die klok teen muur kondig noenmaal aan…
Lasagne en slaai en vars gebakte-brood uit die kombuis
is daar heerlik in onse taal saam gefuif
daar in Kaapsehoop-gastehuis se laan
Voor almal daarna na Pronoia Kapel verhuis
“Meester prof”- bieg Nita Cronjé:
“Sprakeloos staan ek, en eerste was die skryfskool hier, op die berg van hoop
in ‘n ander warm Kaap
en voorsien ons dan, vir volgende jaar,
‘n slypskool wat weer gaan kom draai, in Nelspruit se lekker Kaap.”
* Grafomanie – Skryfslaaf
@lowvelder Die ATKV-poësiewerkswinkel het so pas afgesluit. Laevelder gesels met Nita Cronjé van ATKV. #atkv #innibos2025












