Pieter Smit groet ná 42 jaar in die polisiediens
Kapt. Pieter Smit sien uit na sy aftrede en beplan om nog betrokke te wees in die Mbombela-gemeenskap.
Pieter Smit (60), ‘n kaptein en bevelvoerder van die Nelspruit-blitspatrollie, maak gereed om môre, 28 November, sy uniform na 42 jaar se getroue diens op te hang. Hy het sy loopbaan se hoogte- en laagtepunte in ‘n spesiale onderhoud met Laevelder gedeel.
“Ek onthou nog, twee dae nadat ek my laaste matriekvak geskryf het, was die plan om saam met my vriende Suidkus toe te gaan. My pa het egter ‘n ander idee gehad. Weens my skoolpunte en té veel sport, het hy besluit dit is tyd vir ‘n meer konstruktiewe pad,” het Smit vertel.
Sy pa was ‘n reservis-adjudant-offisier, en albei sy broer en skoonsuster was ook reeds sersante by die destydse Suid-Afrikaanse Polisie (SAP), wat ná 1994 na SAPD verander het.

Op 24 November 1983 het hy ‘n groen safaripak in sy kas ontdek en sy pa nuuskierig daaroor uitgevra. “Hy het gesê ek moet dit aantrek en my hare laat sny voor my aantrede by die Sishen-polisiestasie naby Thabazimbi.”
Vroeg die volgende oggend het hy daar aangemeld en is deur lt. Coetzee as ‘n lid van die SAP ingesweer.
“My droom was om regte aan die Universiteit van die Vrystaat te gaan studeer, maar sport het destyds ‘n stokkie voor my studies gesteek. Met ‘n loopbaan in die polisie, kon ek steeds die wet handhaaf én my passie vir sport uitleef,” het hy erken.
Smit het sy opleiding by die SAP-kollege in Pretoria voltooi en het in verskeie departemente as konstabel, bevelvoerder en instrukteur gewerk.
“As konstabel het ek skofte gewerk en alle klagtes tydens my skof bygewoon; my eerste tree in uniform om die gemeenskap te dien.”
Hy het sy loopbaan in 1985 as instrukteur by die SAP ná sy opleiding by Maleoskop begin. In 1992 is hy en 11 ander in ‘n handgranaataanval in Wesselton erg beseer. “Ek was vir ses maande buite aksie en moes weer leer loop.”

Na sy herstel het Smit sy spesiale wapens en taktiek (SWAT)-instrukteurskursus voltooi, en die opleiding in Mpumalanga aangebied. Hy het later by die Ermelo K9-eenheid, Trichardt SAPD en Secunda-misdaadinligtingontledingsentrum gewerk. In 2007 het hy ‘n gyselaar- en selfmoordonderhandelaarkursus voltooi, en was by ‘n groot gyselaarsdrama in Standerton betrokke.

Na sy bevordering tot kaptein in 2010, is hy na die Embalenhle-polisie as skofbevelvoerder verplaas en ‘n jaar later na die Nelspruit-blitspatrollie as bevelvoerder oorgeskuif.
“In ‘n loopbaan van 42 jaar word jy aan sóveel uitdagende en traumatiese tonele blootgestel, dat dit onmoontlik is om almal op te noem,” het Smit gesê.
Een saak wat tot vandag nog by hom spook, is die moord op sy jongste broer, sers. Bruwer Smit op 5 Junie 2012 in Pretoria. Hy en sy seun is glo van hul bergfietse beroof toe die traumatiese voorval gebeur het.
“Tot vandag toe het ons as familie, nog geen antwoorde of verduideliking van die Gauteng-polisie ontvang nie. Daar is nog steeds geen afsluiting nie,” het hy verduidelik.
Smit het die traumatiese gebeure verwerk deur gereeld langafstande te hardloop. Hy het verder gesê dat die polisiediens na die 1994-verkiesing verander het. “Dit is duidelik dat die opleidingstandaarde van die SAPD tans baie laer is. Die vlak van dissipline en respek van jonger lede teenoor offisiere, het merkbaar verswak.”
LEES OOK: Nuwe hommeltuig vir Ehlanzeni Polisieduikeenheid
Smit kyk weer terug na die gyselaarsdrama in Standerton.
“Vier mans het ‘n winkel in die dorp beroof. Die rowers is betrap, een het ontsnap en die ander drie het 21 mense in die winkel gyselaar gehou. Hy kon daarin slaag om die leier om te praat om homself oor te gee. Die ander twee is in die gebou se plafon deur die taakmag oorval. Niemand is beseer nie. En dit is waarna elke onderhandelaar streef.”
Smit se ander groot sukses was toe die blitspatrollie-eenheid in 2017 as nasionale wenner in die land ten opsigte van gesteelde of geroofde voertuie aangewys is.
LEES OOK: White River Flying Squad confiscates 10 rifles from bakkie
Hy het erken dat daar ‘n mate van onsekerheid oor sy toekoms ná sy aftrede is, maar dat hy na baie dinge uitsien.
“Ek sien daarna uit om sonder ‘n selfoon te wees, om 18 gate gholf te kan speel sonder onderbrekings, bergfiets te ry, en in die buiteland te toer.”
Smit beplan ook om steeds by risikobestuur en gyselaarsonderhandelings betrokke te wees.
