KYK: Spoegkobra in Hazyview: Leon van Nierop se hond red Nuwejaarsdag
Skrywer Leon van Nierop begin 2026 op ’n glibberige nood in Hazyview.
Gee vir hom ʼn skryfding en hy pen die wonderlikste, soms gru en grillerige stories neer.
Vir Leon van Nierop, bekende skrywer en resensent, het die nuwe jaar met ʼn onverwagse kinkel begin toe hy en sy vriend, Werner Klopper, van aangesig tot aangesig met ʼn Mosambiekse spoegkobra kennis gemaak het.
Die twee manne en die jongste toevoeging in hulle lewe, die vier jaar oue worshond Wolfgang, was met vakansie in Hazyview.

“Werner was buite in die tuin doenig, waarna hy by die huis ingestap het, met Wolfgang wat soos ʼn blits agterna gestorm het,” vertel Van Nierop.
Toe Klopper die trappe opgeklim het, het Wolfgang een benoude blaf gegee en teen Klopper begin opspring.
LEES OOK: VIDEO: Troupant geniet sy slangontbyt in Krugerwildtuin
Die slang onder die tafel
“Dit was asof hy wou aandag trek. Toe Werner omdraai, het Wolfgang teen die trappe afgestorm en op ʼn klein tafeltjie in die voorportaal afgepyl.”
Die hond het skielik omgeswaai en dit is toe dat Klopper die slang onder die tafel sien.

“Wolfgang se linkeroog het skielik baie begin traan en dit is toe dat ek besef die kobra het hom gespoeg,” sê Klopper.
“Ek het die hond opgetel, vir Leon geskree daar is ʼn slang en na buite gehaas.”
Hond word besete
Wolfgang was in daardie stadium besete en wou met geweld teruggaan na die reptiel.

Van Nierop het terwyl hy teen die trappe afgeloop het die alleman se veearts, Google, geraadpleeg.
“Ek het vir Werner gesê hy moet Wolfgang se oog met water uitspoel. Ek het na die volgende rat oorgeskakel. In daardie stadium wou ek net keer dat die slang nie verder die huis invaar nie,” gesels Van Nierop.
LEES OOK: Dodelikste slang in Afrika kruip toe agter herpetoloog weg
Mop word wapen
Al wapen wat hy in die hande kon kry, was ʼn mop waarmee hy vroeër die vloer gewas het.
Hy het besef die mop gaan nie van veel hulp wees nie.
Al genade was om ʼn slangvanger se hulp in te roep.
“Waar kry ’n mens vieruur die middag, op Nuwejaarsdag, so iemand in die hande?”
Ironies het hy twee dae tevore saam met Stefan Hannan, ʼn vorige buurman, gekuier.

” Toe ons groet, het hy so terloops genoem dat hy intussen ʼn slangvanger geword het.”
Een oproep en sewe minute later het Hannan by die huis opgedaag en die katspoegie langer as ’n meter spoegkobra, gevang.
“Hy durf toe vir my vra wat ek met die mop wou doen! Die vloer was?”
Wolfgang is na ʼn veearts geneem vir deeglike ondersoek.
Die hond het geen permanente oogskade opgedoen nie en oogdruppels is verskaf vir nasorg tuis.
“Ten spyte van die harwar, het beide van ons kalm gebly,” het Van Nierop bygelas.
“Ek het die vakansiehuis al 45 jaar en nog nooit was daar ʼn slang binne of buite ons huis nie!”
Nuwe drama ontvou voor drama
Hy sê ironies genoeg het hy enkele minute voor die slangdrama ontvou het, agter sy rekenaar ingeskuif om die vierde hoofstuk van sy nuwe moorddrama te begin skryf.

Indien inwoners van Hazyview ‘n slangvanger benodig, kan hulle vir Stefan Hannan by 067 624 3048 kontak.
