Leeu-waarskuwing naby Witrivier ontaard in sosiale media-sirkus
’n Waarskuwing oor ’n moontlike rondloperleeu het in ’n sosiale media-grap ontaard nadat ’n Rocky Drift-inwoner erken het dat die beelde met kunsmatige intelligensie gegenereer is.
Wat Dinsdag, 12 Januarie, as ’n ernstige waarskuwing van bekommerde inwoners begin het oor ’n moontlike rondloperleeu in die Curlews/Rocky Drift-omgewing, het spoedig in ’n sosiale media-sirkus ontaard.
LEES OOK: Marloth-leeus steeds ‘n realiteit
Verskeie inwoners het die owerhede, insluitend die Mpumalanga Toerisme- en Parkeraad, in kennis gestel om die erns van die saak te ondersoek. Binne ure het WhatsApp-groepe en Facebook-bladsye egter begin gons met grappies, memes en oordrewe stories.

Die verwarring het vanoggend, 14 Januarie, ’n nuwe hoogtepunt bereik toe ’n kunsmatige intelligensie-gegenereerde foto van ’n sogenaamde leeu-waarneming by Da Loose Mongoose wyd begin versprei het. Hoewel Laevelder later kon bevestig dat die beeld vervals is, het dit reeds sterk reaksie ontlok.
LEES OOK: Die Laeveld is leeuwêreld
Die skepper van die vervalste beelde is Zyl van Rensburg, eienaar van Alu-Boats. Van Rensburg het aan Laevelder erken dat hy kunsmatige intelligensie gebruik het om die uitbeeldings te skep. Hy het laggend vertel dat ’n inwoner van hul straat glo in November verlede jaar een aand ’n leeu se stert gesien het.
In reaksie op Laevelder se Facebook-plasing het hy voortgegaan om die inwoners tong-in-die-kies te terg. Beelde van ’n leeu wat met ’n sambreel by Slaghuis Vleishaak staan en wag, of langs die pad sit met ’n plastieksak in sy bek, het groot vermaak veroorsaak.

Vir die parkeraad het die beeld egter ’n vars hoofpyn veroorsaak. Chris Hobkirk het gesê hulle is in kennis gestel en onmiddellik na die betrokke restaurant ontbied.
“Mense moet versigtig wees met die verspreiding van valse inligting of foto’s. Hulle kan vervolg word,” het hy gewaarsku. Die parkeraad het egter besluit om Van Rensburg slegs ’n waarskuwing te gee.
Laevelder kan tans nog nie bevestig of daar wel ’n leeu in die gebied is nie. Inwoners word aangemoedig om steeds waaksaam te wees, veral met die nat weer wat diere moontlik uit die Krugerwildtuin kan laat ontsnap.
