NHS amptelik ‘n selfoonvrye-skool in Mbombela
Navorsing, gelei deur die skool en ‘n professor in Stellenbosch, het laat blyk dat selfone leerders se aandag aftrek.
Na ‘n kort skoolvakansie het leerders van Hoërskool Nelspruit vandag, 8 April, teruggekeer vir kwartaal 2 met ‘n nuwe reëling om hulle selfone tydens skoolure af te skakel.
Ouers is reeds op 27 Maart op die Nellie-toep van die nuwe reëling in kennis gestel.
Dié nuwe instelling volg nadat die skool die negatiewe impak van selfoongebruik op die akademiese prestasie van leerders geïdentifiseer het.
LEES OOK: Mbombela parents alarmed by Instagram accounts targeting teens
Volgens die skrywe wat aan ouers gestuur is, het die skool in samewerking met prof. Daan le Roux van die Universiteit van Stellenbosch, navorsing onder alle rolspelers, bv. die leerders, ouers, personeel en die beheerliggaam, gedoen.
“Feitlik al die leerders wat as deelnemers in die navorsing betrek is, het aangedui dat hulle deurgaans tydens klastyd bewus is van aktiwiteite op hulle selfone,” lees die brief.
Die skool het bygevoeg dat ander skole wat selfone verbied, getuig dat leerders se akademiese prestasie verbeter het en boeliery afgeneem het.
Na dié gevolgtrekking het die skool ‘n stel maatreëls aan ouers gestuur oor die gebruik van selfone tydens skoolure.
Reëls vir selfoongebruik tydens skoolure:
• Leerders mag steeds (op eie risiko) hulle fone skool toe bring.
• Geen leerder mag ‘n selfoon of enige elektroniese kommunikasietoestel tussen 07:30 en 13:30 aanskakel, uit sy sak haal of gebruik nie. Let wel: hierdie tydperk sluit klastyd, klaswisseling en pouses in. Selfone moet tydens bogenoemde tydsduur afgeskakel wees.
• Leerders mag steeds slimhorlosies dra, mits dit nie aan enige kommunikasiemedium (bv. selfoon, WiFi of data) gekoppel is nie.
• Leerders mag wel steeds hulle fone vir betalings by die snoepie of finansiële kantoor gebruik. Wanneer ‘n betaling gedoen moet word, mag die leerder sy/haar foon uithaal, aanskakel en die transaksie afhandel, waarna die foon weer afgeskakel en weggebêre moet word.
• Spesiale versoeke rakende mediese kondisies en ander geldige ad hoc-gevalle moet skriftelik aan die onderskeie graadhoofde gerig word, waarna die graadhoof skriftelik terugvoer sal verskaf.
‘n Appélprosedure sal ook in plek wees indien leerders voel hulle selfone is onregmatig gekonfiskeer.
Indien leerders die reëls oortree, sal hulle ‘n oortredingsprosedure volg wat kan lei tot ‘n R300-boete vir ‘n herhaaldelike oortreding.
LEES OOK: How to stay safe from cybercrime while travelling
Ouers word aangemoeding om deeglike reëlings met leerders te tref en alle kommunikasie met leerders sal met behulp van afkondigings direk voor pouse en aan die einde van die skooldag geskied.
Die skool het ouers gerus gestel dat alle nodige tegnologie in klaskamers voorsien word en dat leerders nie nodig het om selfone as ‘n navorsinginstrument te gebruik nie.
