Local news

VF Plus verwelkom stop van onwettige ontwikkeling in Graskop

Druk van die gemeenskap dwing die munisipaliteit om onwettige bouwerk in Graskop in die hok te slaan.

Die VF Plus verwelkom die bevestiging dat die Thaba Chweu-plaaslike munisipaliteit formele stappe geneem het om die onwettige ontwikkeling by Blyde Chalet in Louis Trichardtstraat, Graskop, stop te sit.

“Dié verwikkeling volg op volgehoue VF Plus-druk en klagtes van inwoners en omliggende ondernemings oor die ernstige nie-nakoming van bou- en veiligheidsvereistes,” se VF Plus-raadslid van die Thaba Chweu-plaaslike munisipaliteit, Gerda Venter.

Luidens Venter sluit dit die volgende probleme in:

• Oortredings van bouregulasies en ontwikkelingsvereistes
• Ontbrekende veiligheidstekens en ontoereikende maatreëls op die terrein
• Onbeheerde openbare toegang en werkers sonder beskermende toerusting
• Onsekerheid oor goedgekeurde bouplanne en die impak op naburige ondernemings
• Geen behoorlike openbare deelnameproses nie

Venter benadruk dat die risiko’s reeds in Desember 2025 uitgelig is toe boumateriaal tydens storms op naburige eiendomme beland het.

“Die ligging, naby gevestigde toerisme-ondernemings en ’n instansie wat groot skoolgroepe huisves, maak die streng nakoming van veiligheidstandaarde noodsaaklik,” se Venter.

Munisipale amptenare het bevestig dat ’n formele kennisgewing om konstruksie te staak, op 21 April uitgereik is nadat die ontwikkelaar versuim het om die nodige dokumentasie te verskaf, volgens Venter.

“’n Oortredingskennisgewing gee die ontwikkelaar nou 21 dae om te reageer voordat verdere regsaksie volg. Die terrein sal gemonitor word om nakoming te verseker en die munisipaliteit het aangedui dat dit gesluit bly totdat alle uitstaande dokumentasie ingedien is. Die VF Plus wil beklemtoon dat proaktiewe wetstoepassing noodsaaklik is om te voorkom dat onwettige ontwikkelings tot hierdie punt eskaleer. Die nakoming van beplanningsprosedures en munisipale regulasies is ononderhandelbaar vir openbare veiligheid en die beskerming van Graskop se reputasie as toerismebestemming,” se Venter.

Die onwettige ontwikkeling by Blyde Chalet in Louis Trichardtstraat.
Die onwettige ontwikkeling by Blyde Chalet in Louis Trichardtstraat.

Venter sê voorts dat die VF Plus die situasie noukeurig sal monitor om te verseker dat die munisipaliteit sy eie regulasies konsekwent toepas en dat administratiewe geregtigheid en openbare veiligheid gehandhaaf word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Bertus de Bruyn

Bertus de Bruyn is based in Mbombela, Mpumalanga. De Bruyn has been employed by Caxton since 2009. After a short sabbatical of two years, De Bruyn is back at the place he called home, Caxton, at Lowveld Media. He is currently the digital content manager, but has 14 years of journalism skills, news editor, and acting editor duties behind his name.
Back to top button