Laevelder deel haar ervaring oor liefdesoektog op kassie
Smith het in die finaal in op Op My Eish! nie een dame gekies nie.
Die eindfluitjie het geblaas vir Bejanke Nel (32), maar hoewel sy nie die voormalige rugbyspeler Ruan Smith se hart gewen het nie, het sy met meer as net ‘n liefdesteleurstelling weggestap. Die enkelma van twee het die afgelope drie maande op kykNET se gewilde realiteitsreeks Op my Eish! verskyn om ‘n kans op liefde te waag.
Sy het saam met twee ander dames, Cindy-Lee Burrell en Charlene Wolmarans, deurgedring na die finaal, waarin Smith op die einde nie een van die deelnemers gekies het nie.
“Dis natuurlik nie lekker nie, ‘n mens voel verwerp, maar ek is oukei. Ek verstaan en respekteer sy besluit,” sê Nel ná afloop van die program. Smith het aan die dames verduidelik dat hy homself eers moet vind voordat hy weer sy hart kan oopmaak.

‘n Sosiale media-herrie het losgebars, met kykers wat vra waarom hy in die eerste plek deelgeneem het.
“Ek dink Ruan het gedink hy is weer reg vir liefde, maar het met die verloop van die reeks besef dat hy nog aan homself moet werk.”
In die laaste episode het Smith by die reünie bekend gemaak dat hy wel ‘n nuwe liefde in sy lewe het.
Hy het nie verder oor die verhouding uitgebrei nie en haar identiteit is nog onbekend. “Ek is baie bly vir hom en ek sal hom altyd liefhê as ‘n pel.”
Na ‘n maand van verfilming beskryf Nel die program as ‘n ‘borrel’ waarin ‘n mens leef wat jou van die realiteit afsluit.
“Ek het vir ‘n maand lank by Kilima Private Game Reserve and Spa gebly en ons kon slegs op Sondae dorp toe gaan om die nodigste inkopies te doen.” Sy het laggend erken dat Sondae gevoel het soos wanneer jy toestemming kry om uit die koshuis te gaan.
Net soos in ‘n koshuis moes sy ‘n kamer deel met drie ander dames. “As ek op my eie wou wees, het ek partykeer ‘n kombers op die grasperk oopgegooi en musiek geluister.”
Sy erken dat hulle lekker kos gekry het en weekliks vir masserings na die spa kon gaan. “Dit was lekker om bietjie tyd vir myself te hê, maar as ma voel jy nog steeds skuldig om jou kinders alleen te los.”

Sy en Smith het mekaar al ‘n paar maande voor die program tydens ‘n video-oproep vlugtig ontmoet. Haar vriend, beter bekend as ‘Groot Wit’ (Jaco Marneweck), het een aand by haar vorige werkplek kom kuier en met Smith oor die foon gesels. Hy het hom toe aan Nel voorgestel, min wetende dat sy later vir die program sou inskryf.
“Ruan kan voorkom as ‘n buffel, maar hy het ‘n baie mooi hart en is eintlik ‘n sagte mens.” Van hul eerste blitsafspraak af was daar ‘n konneksie, maar sy moes lank wag vir haar volgende afspraak met hom.
“‘n Mens het baie tyd om te dink en dit was nie lekker wanneer hy op ander afsprake gegaan het nie.” Wanneer sy nie op groep- of enkelafsprake was nie, het sy saam met haar nuwe vriendinne, Hermi Dempsey, Saartjie Erlank en Minette Prinsloo, gekuier.

“Ons girls het lekker saam gelag en ek het vriendinne vir ‘n leeftyd bygekry.”
Smith het haar aan die begin van die reeks verseker dat sy haar tasse moet wegpak, want sy gaan nog lank bly. Nel het egter besef toe sy na haar normale lewe terugkeer, dat dit nie sou uitwerk nie.
“Toe ek die episodes kyk, het sekere dinge vir my uitgestaan en het ek vertroosting gekry dat hy my nie gekies het nie.” Die program is ook nie altyd soos dit op die kassie lyk nie. “Ons afsprake was baie kort, partykeer net 30 minute,” verduidelik sy. Nel het bygevoeg dat hulle min tyd saam met Smith gehad het.
“Ek het myself gevind in hierdie proses en almal het gesê dat Bejanke weer terug is.”
Talle ma’s het haar ná die reeks gekomplimenteer en bedank vir die voorbeeld wat sy gestel het. Kykers het haar geloof omdat sy gewys het dat dit oukei is vir ma’s om ook tyd vir hulself te maak.
“Ek glo my man is daar buite. Hy is iewers op pad in ‘n Temu-pakkie wat nog ‘n rukkie gaan vat.”
