Local news

Sonpark-messteekdrama eindig in R250 000-skikking

Sonpark-messteekvoorval eindig ná skikking, kontantbetaling en emosionele vergifnis.

‘n Saak van poging tot moord wat uit ‘n 2022-voorval in Sonpark-sentrum gespruit het, is uiteindelik geskik nadat ‘n ooreenkoms tussen die partye bereik is.

Rickus Kitchen (toe 22) het op die aand van 10 November 2022 saam met vriende by ‘n restaurant gekuier toe hy en Petresco Jardim (toe 24) in ‘n woordewisseling betrokke geraak het. Albei partye het daarna die perseel verlaat.

“Ek was op pad na my voertuig toe, toe Jardim met sy motor op my afpyl. Ek moes uit die pad spring om te keer dat hy my raakry. Die volgende oomblik het die bloed geloop,” het Kitchen dié week aan Laevelder vertel.

LEES OOK: Young man’s stomach cut open by attacker in Sonpark

“Ek onthou hy het met sy uitgestrekte arm, met ‘n mes in die hand, verby my gery. Die mes het my in die maag getref en ‘n diep snywond veroorsaak.”

Jardim het ná die voorval van die toneel weggejaag.

‘n Skokkende sekuriteitskamerabeeld, wat in Laevelder se besit is, wys hoe die voorval hom afgespeel het.

Die voertuig ry stadig nader, stop naby Kitchen en sy vriende, en beweeg dan weer vorentoe met flitsende remligte. Kort daarna word gesien hoe Kitchen gewond raak, terwyl die voertuig versnel en uit beeld verdwyn.

Kitchen is deur sy vriende ondersteun en hulle het hulp gaan soek. Sy maagwond was sowat 20 cm lank en 15 cm diep.

Hy is inderhaas na Nelspruit Mediclinic geneem, waar dokters lank geworstel het om die bloeding te stop en ‘n noodoperasie moes uitvoer.

Petresco Jardim. > Foto: Verskaf/Petresco Jardim
Petresco Jardim. > Foto: Verskaf/Petresco Jardim

Omdat hy nie ‘n mediese fonds of die R35 000 deposito gehad het nie, was daar benoude oomblikke vir sy familie voordat hy gestabiliseer is en later na Rob Ferreira Hospitaal oorgeplaas is.

LEES OOK: Sonpark knife attack case postponed again

Suzel Kitchen, Rickus se ma, het Maandag, 18 Mei, vertel dat sy gevrees het vir haar seun se lewe.

“Dit was nogal skokkend om my eie ingewande deur die gapende wond te sien,” het Rickus gesê.

Tydens ‘n noodoperasie is die wond geheg. Kort ná die voorval is Jardim in hegtenis geneem en van poging tot moord aangekla.

LEES OOK: Sonpark knife attack case postponed to April

Die saak het egter nooit tot ‘n finale hofverrigting gevorder nie. Kitchen en Jardim het dié week bevestig dat hulle reeds sowat 18 maande gelede ‘n skikking bereik het, waarin die klag teruggetrek is in ruil vir ‘n beduidende kontantbetaling.

“Ek het nou die hele ding agter my gesit en gaan net aan met my lewe,” het Kitchen gesê.

Hy het bygevoeg dat ‘n Aartsengel-tatoeëermerk oor die litteken aangebring is om die herinnering te sluit.

“Die Here het my ‘n tweede kans gegee,” het hy gesê.

Rickus Kitchen.> Foto: Verskaf/Rickus Kitchen
Rickus Kitchen.> Foto: Verskaf/Rickus Kitchen

Jardim, wat tans as motorverkoopsman in Bethlehem in die Oos-Vrystaat werk, het Dinsdag, 19 Mei, bevestig dat ‘n skikkingsooreenkoms op 11 November 2024 bereik is.

Hy sê die bedrag was R250 000.

“Dit het my jare geneem om myself te vergewe,” sê Jardim.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button