Local news

Mpumalanga-onderwys betaal R293 000 vir 3×3 m-waghuis

’n Oudit deur Rakoma and Associates het bevind dat Mpumalanga se departement van onderwys meer as R293 000 betaal het om ’n 3x3 m-waghuis met toilet en kantoortjie by die Ehlanzeni-distrikskantore in KaNyamazane op te knap.

’n Waghuis, bestaande uit ’n toilet en kantoortjie wat skaars 3×3 meter groot is, het die provinsiale regering waarskynlik meer as R293 000 gekos. Dié peperduur gebou was in 2024 deel van ’n groter tender waar opknappingswerk by ’n streekskantoor van die departement van onderwys gedoen is.

Fluitjieblaser lig in

Volgens die Mpumalanga-premier, Mandla Ndlovu, het ’n fluitjieblaser hom vroeg in 2025 ingelig dat daar vermoedelike tenderongerymdhede en oorbetalings betrokke was by die opknappingsprojek by die Ehlanzeni-distrikskantore in KaNyamazane buite Mbombela.

Die oorspronklike projek het die opknap van die ou waghuis en die oprig van nuwe palisadeheinings van sowat 600 m behels.

Twee tenders is einde 2024 aan Indumane Trading en Mhlotini Trading toegeken.

Forensiese ondersoekers aangestel

Ndlovu het die forensiese ondersoekers, Rakoma and Associates Incorporated (RAI), aangestel om die beweerde ongerymdhede te ondersoek.

RAI het bevind die totale projekkoste het R1 950 054 beloop en dat onderwysamptenare voorgestel het dat twee kontrakte vir dieselfde projek uitgereik moet word. Daar is dus twee verskillende maatskappye aangestel.

Die forensiese ouditdokument wat Laevelder bestudeer het, toon dat die kontrakverdeling gedoen is om die regulasies van die Munisipale Finansiële Bestuurswet (MFMA) te omseil.

Volgens die MFMA se voorskrifte moet projekte van meer as R1 miljoen deur die normale proses van oop en mededingende tenders plaasvind.

RAI sê die verdeling van tenders vir dieselfde projek word deur munisipaliteite en plaaslike regeringsdepartemente as ’n skuiwergat gebruik om eerder die Versoek om Kwotasie (RFQ)-stelsels te gebruik.

Dié proses maak dit makliker en vinniger om sake met plaaslike regerings te doen.

Indumane Trading aangestel

Indumane Trading is aangestel vir die installering van ’n 350 m-palisadeheining teen ’n koste van R956 535. Dit kom neer op ’n gemiddelde opemarkprys van sowat R2 800 per lopende meter.

Mhlotini Trading is aangestel teen ’n koste van R993 519 om die waghuis/toilet op te knap en ’n heining van 250 m op te rig.

Die waghuis by die Departement van Onderwys se streekkantoor buite Mbombela. > Foto: Verskaf/DA
Die waghuis by die Departement van Onderwys se streekkantoor buite Mbombela. > Foto: Verskaf/DA

Teen ’n geraamde lopende koste van R2 800 per meter vir ’n palisadeheining, is Mhlotini dus R700 000 vir heinings betaal, wat daarop dui dat die nege vierkante meter-geboutjie se opknapping op sowat R293 500 te staan gekom het.

By dié projek het RAI ook ontdek dat dele van die ou palisadeheining nooit vervang is nie, maar net oorgeverf is.

RAI beveel in hul verslag aan die onderwysdepartement moet ongeveer R195 000 as oorbetaling van die maatskappye verhaal en dat tugstappe teen ses senior lede van die departement ingestel moet word.

“Gelaaide tenders word ’n baie algemene neiging”

“Onreëlmatighede met gelaaide tenders word ’n baie algemene neiging in die provinsiale regering,” sê Annerie Weber, DA-woordvoerder vir onderwys in Mpumalanga.

“Ons sal nie net druk op premier Ndlovu plaas om te verseker dat tugstappe teen die ses betrokke amptenare gedoen word nie, maar ons sal ook verseker dat hierdie maatskappye op ’n swartlys geplaas word.”

Jasper Zwane, woordvoerder van die onderwysdepartement, sê interne stappe teen die betrokke amptenare is reeds aan die gang.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Bertus de Bruyn

Bertus de Bruyn is based in Mbombela, Mpumalanga. De Bruyn has been employed by Caxton since 2009. After a short sabbatical of two years, De Bruyn is back at the place he called home, Caxton, at Lowveld Media. He is currently the digital content manager, but has 14 years of journalism skills, news editor, and acting editor duties behind his name.
Back to top button