Dik hael val op Lydenburg se Longtompas
Motoriste wat Maandag, 13 Julie, op die Longtompas (R37) buite Lydenburg gery het, is versoek om uiters versigtig te bestuur nadat hael op die bergpas aangemeld is.

Verskeie noodgroepe het waarskuwings op WhatsApp-kanale uitgereik om die pas liefs te vermy as gevolg van die haelkorrels.
Die haelstorm is ‘n ongewone weerverskynsel vir Julie, wat tradisioneel beskou word as die koudste en droogste wintermaand van die jaar in die streek.
Hael is gedurende hierdie tyd van die jaar relatief skaars en kan gevaarlike rytoestande veroorsaak.

Bestuurders wat reeds op die roete was, is aangeraai om hul spoed te verminder, volgafstande te vergroot en waaksaam te bly, aangesien die padoppervlak glad kan wees en sigbaarheid in geaffekteerde gebiede verminder kan word.

Owerhede het intussen ander verkeer begin wegwys en die pas gesluit as gevolg van die veiligheidsrisiko’s verbonde aan die gladde oppervlak.
- Foto: Verskaf/Allen Ford
Die artikel is aangepas na publikasie
