Recce-wedervaringe op Kaapsehoop gedeel
Die jaarlikse gewilde recce-aand op Kaapsehoop het weer voor 'n stampvol saal van geesdriftige belangstellendes plaasgevind.
’n Yskoue Saterdagaand was gehul in vuurwarm gesprekke saam met oud-recce en spesmagte-operateur, SW Fourie, tydens die afgelope recce-naweek.
In ’n stampvol saal het Fourie geheime oor die Bosoorlog gedeel en oor sy boek, Sierra Whiskey: Tien jaar in die Suid-Afrikaanse Spesiale Magte, gesels.
Willie Smit het gesorg vir die agtergrondmusiek voor die vertoning en het die gaste in die regte luim geplaas.
Fourie het onder meer vertel van sy eerste operasies in Mosambiek, waar hy en sy span die Rhodesiese SAS se D-eskader as dekmantel gebruik het, asook van die seegebaseerde aanval op die Lobito-olieraffinadery en die vernietiging van die Girual-brug in Angola.

Foto’s uit sy boek, wat nog nooit voorheen gepubliseer is nie, was deel van die vertoning.
Dit was veral interessant om te kon leer dat die destydse spesmagte in verskeie operasies te voet, per fiets en/of vliegtuie geïnfiltreer het.

Fourie het selfs vertel hoe hy 37 000 voet met ’n valskerm moes spring waar die temperatuur -40 was en die val sowat 1 minuut en 30 sekondes geduur het.
Fondsinsameling vir veterane
Na die funksie is verskeie recce-memorabilia opgeveil vir die spesmagte-veteranefonds.
Daar is heerlik gesmul aan ’n spitbraai deur Elaine Blignaut, die Laeveld se eie “Pinky”, gedurende die aand.
“’n Mens moet die veterane eer vir wat hulle onder uiters moeilike omstandighede gedoen het. Hulle waagmoed en spesialiskennis op alle gebiede is voorwaar baie spesiaal,” het Piet Meyer na afloop van die funksie aan Laevelder gesê.

Blignaut, wat gesorg het vir die verversings, was ewe in haar noppies.
“Een ongeëwenaarde lekker aand. Sukses-kwadraat. Dit was ’n goeie aanbieding wat mense bymekaar gebring het. Elke persoon praat met lof en waardering van die aand,” het sy gesê.
Dank aan ondersteuners
Fourie was net so dankbaar: “Ons kyk terug op ons lewens in die spesmagte en kyk waar God ons lewens gespaar het.”
Theo van Huyssteen voel so oor die aand: “Die recce-storieaand in Kaapsehoop was weereens ’n reusesukses. Hierdie jaarlikse fonsinsamelingsaand ten bate van behoeftige SASMA-veterane los nou al ’n voetspoor op die Laeveld-kalender en groei in gewildheid. SW het die mense geboei met sy vertellings oor die Spesmagte se mees suksesvolle geheime oorgrensoperasies.

“Namens SASMA wil ek elke ondersteuner bedank vir hul teenwoordigheid, in die besonder Silver Mist wat die Waenhuissaaltjie gratis aangebied het, Willie Nel wat almal vemaak het met sy briljante musiektalent, Nagkantoor se Isobel de Wet vir haar reëlings om te sorg dat alles seepglad verloop, en Ellaine van A Tua Casa vir die smaaklike verversings. Dan is daar ook nog skenkings van persone wat anoniem wil bly. SASMA waardeer dit opreg.”
