Laeveld treur oor afsterwe van dr. Dave Fourie
Huldeblyke stroom in ná die onverwagse dood van geliefde Laeveldse dokter dr. Dave Fourie.
Die Laeveld-gemeenskap is in rou en ongeloof gedompel ná die skielike dood van dr. Dave Fourie, ‘n gerespekteerde algemene praktisyn, sleutelfiguur en stigterslid van Nelmed Medicross en M-Care Nelspruit Hospitaal.
Dr. Fourie (67) is Maandagaand, 10 Augustus, onverwags in sy slaap oorlede. Nelmed Medicross het sy heengaan die volgende dag amptelik bevestig. Dit is die tweede groot verlies vir die streek se mediese gemeenskap binne slegs ‘n paar weke, ná die afsterwe van dr. Jan Joubert einde Julie.
Vir meer as 30 jaar was dr. Fourie ‘n hoeksteen van gesondheidsorg in die Laeveld. Hy het saam met kollegas soos dr. André Hollmann en dr. Charl Pellissier die bestuur van Nelmed versterk en was ook deurslaggewend betrokke by die stigting van M-Care Nelspruit Hospitaal.
Nelmed Medicross het kort ná sy dood hul medelye uitgespreek. “Ons sal sy vreeslose toewyding en onskatbare bydrae tot Nelmed se sukses mis. Ons gedagtes is by sy familie in hierdie baie hartseer tyd.”
M-Care Nelspruit het bygevoeg dat sy nalatenskap voortleef in die talle lewens wat hy geraak het.
Dr. Fourie was ook betrokke by Solidariteit Helpende Hand se Ons Spreekkamer, waar sy invloed wyd gestrek het.

Huldeblyke het intussen van kollegas, vriende en ander mense wat hom geken het, ingestroom. Dr. Lia Joubert, weduwee van die oorlede dr. Joubert, het vertel dat Fourie in 1980 sy loopbaan as laboratoriumassistent by Rob Ferreira Hospitaal begin het.
Sy onthou: “Hy het dikwels saam met my en Jan gaan staptoere doen. Dit was ook tydens hierdie toere dat hy begin uitgaan het met Erika, wat as radiograaf gewerk het.”
Gedryf deur sy passie vir medies, het hy aan die Universiteit van die Oranje Vrystaat gaan studeer. Ná sy studies het hy na die Laeveld teruggekeer en as algemene praktisyn saam met dr. Piet Vermeulen en dr. Craig gewerk.
In 1997 het hy by Nelmed aangesluit, waar hy tot met sy afsterwe die gemeenskap met toewyding gedien het.
Huldeblyke aan die geliefde Dr. Fourie
Dr. Lia onthou hom as ‘n bekwame dokter met vele talente: “Dave was lief vir motors, het pragtige houtwerk gedoen en sy chirurgiese werk was uiters netjies. Hy het ook baie werk by M-Care en Macadamia Medical and Health Centre gedoen.”
Lynette Spencer, neé Coetzee, skryf:
Wat kan ek sê oor Dave? Hy was my skoolbuddy, my Skukuza-pel, my rooiwynmaatjie en my musiekmaat wat laataand musiekvideo’s uit ons era met my gedeel het. Dave was ‘n spesiale vriend lank voordat hy ooit my en my man se algemene praktisyn geword het.
Namens elke NHS-matriekmaat van 1977 kan ek net sê dat die leemte wat hy in ons lewens laat, baie moeilik gevul kan word. Ons eie NHS ’77-WhatsApp-groep was Dinsdag tot laatnag besig met ‘onthou-jy-nogs’ en skok oor sy skielike heengaan. Ons sal eerskomende naweek ons eie byeenkoms reël om sy lewe te vier.
Dave was ‘n mens-mens. As hy eers jou vriend geword het, was hy lewenslank een. Ons groet jou, Dave, met seer harte, maar met die wete dat daardie seer altyd goeie herinneringe sal dra. Jy gee nuwe betekenis aan ons NHS-leuse – Palmam Qui Meruit Ferat.”
In een van die mees hartroerende huldeblyke ná dr. Fourie se dood het Linda Dwinger die oggend ná die nuus op sosiale media geskryf:
“Vanoggend het daar ‘n gat in my hart geval…
Vir 37 jaar was jy meer as net my dokter. Ook, my psigiater. My go-to-persoon. Meer soos ‘n pel – die een wat altyd geluister het.
Jy het al my ins en outs geken. Jy het my deur soveel jare raad gegee, wyshede kwytgeraak, saam gelag en soms ook met my geraas – veral wanneer ek, volgens jou, weer hardkoppig was oor daardie pilledrinkery-kwessie.
Jy was ‘n groot music lover, en jou liefde vir ‘n Porsche… wel, almal wat jou ken, sal weet.
Ek het jou reeds leer ken met die aankoop van die charcoal Alfa GTV in 1989. Jy was so trots op daardie een ook.
Jy was iemand met wie ek oor soveel meer as net my gesondheid kon praat, grappies kon maak en jou siel kon uittrek.
Waarheen gaan ek nou? Wie sal ooit jou voetspore kan volstaan?
Jy was die enigste dokter wat my drie seuns van kleins af geken het. Jy het hulle sien grootword, en elkeen van hulle dra sy eie herinneringe van jou saam. Jy was deel van ons gesin se storie.
Om deur daardie spreekkamer se deure te stap, sal nooit weer dieselfde wees nie.
Jy het veels te vroeg gegaan, Dave.
Daar was nog soveel jare wat jy my dokter moes wees. Nog soveel gesprekke. Nog soveel raad. Nog soveel kere wat ek by jou moes instap en jy net moes luister.
Maar jy het gekies om ons vooruit te gaan – heeltemal te vroeg.
En die hartseer waarheid is dat jou lewe nooit in ons hande was nie. Daarom moet ons berus, al gaan dit vrek moeilik wees.
Dankie, Dave, vir 37 jaar se omgee, luister, raad, wysheid, geduld en vriendskap. Dankie dat jy nie net my dokter was nie, maar ietsie van alles.
Jou plek kan nooit gevul word nie. En jou afwesigheid gaan elke keer gevoel word wanneer ek gou-gou moet bel vir ‘n afspraak.
Rus sag, liewe dr. Dave. Jy was ‘n besonderse mens, ‘n besonderse dokter.
Rus nou in vrede – ons sal jou vir altyd
in ons harte bêre vir dit wat jy vir ons beteken het.”
Oudpolisieman Pieter Smit het sy hulde aan dr. Fourie gebring:
“Hoeveel keer stel ons iets uit voordat ons besef dit is te laat? Ons dink ons het tyd. Ons sê: ‘Ek bel hom môre’ of ‘Ek sê volgende keer dankie.’
En dan kom die dag wanneer ‘later’ nie meer bestaan nie. Die waarheid is egter dat ons nooit weet hoeveel geleenthede ons gaan kry nie. Dalk is die vraag nie ‘hoeveel keer nie’, maar eerder: ‘Dalk is dit net een keer te veel.’
Dit is ons plig om ons waardering dadelik aan iemand te toon en nie te wag vir die regte oomblik nie. Die kuier wat ons nog moes reël, of weer moes reël, waarvoor ons nou te laat is.
Om ‘n dokter te verloor wat jou hele persoonlike mediese geskiedenis ken, is soos om ‘n anker te verloor.
Dr. Dave het nie net mediese behandeling gegee nie, maar ook hoop en omgee. Hy het altyd met dieselfde omgee en warmte in die spreekkamer geluister, maar ook wanneer ons lekker gesels en gelag het.
Ons as Nelspruit-gemeenskap het ‘n goeie mens en vriend verloor.”
Dr. Fourie laat sy vrou, familie en ‘n dankbare gemeenskap agter. Sy nalatenskap lê nie net in sy mediese kundigheid nie, maar ook in sy menslikheid: ‘n dokter wat sy beroep met passie beoefen het en ‘n vriend wat sy gemeenskap met warmte en integriteit gedien het.
’n Gedenkdiens sal op Saterdag, 22 Augustus, om 11:00 by die NG Kerk Suid-gemeente gehou word.

