Laat jou innerlike boekwurm uit tydens Boekenaweek
Kom kuier saam by die Innibos Boekenaweek op Kaapsehoop.

Die vierde Innibos Boekenaweek word vanjaar van 28 tot 30 Augustus op Kaapsehoop aangebied en naweekgangers kan ’n stewige aanbod nie-fiksie oor aktuele kwessies verwag.
Fiksie bly egter nie agterweë nie en een van die hoogtepunte is die besoek van Sally Andrew, skrywer van die immergewilde Tannie Maria-boeke wat in die Klein Karoo afspeel. Vrydagoggend skop die boekprogram om 09:30 af in die kapel langs die Nagkantoor Kuierkroeg.
Opspraakwekkende boeke soos Zama Zama: Inside the illicit mining underworld deur Graham Coetzee en die eerste bekendstelling van Chris Marnewick, SC, se Oscar Pistorius: The BIG Lie and the right to a fair trial is onder meer onder bespreking.
Diegene wat dr. Pieter Mulder se lekker gesels oor sy boek Parlementpraatjies tydens Innibos vanjaar misgeloop het, kry weer ’n kans en dié keer bring hy skyfies saam om sy stories mee te belig. Geskiedenis is oud-joernalis Albé Grobbelaar se kos en hy vertel meer van sy boek Historiese almanak: Onthou jy nog? Marius Bakkes van Mpumalanga Erfenis gesels ook met Carel van der Merwe oor sy boek Kansvatter, wat handel oor die eksentrieke Ben Viljoen se vreemde lewensverloop.
Sally Andrew is Saterdagoggend om 10:00 eerste aan die beurt om meer te verklap oor tannie Maria en hoe die nimlike karakter tot ’n internasionale film gelei het.
Die nuwe romans van Debbie Loots (Die vrou met nege lewens) en Carel van der Merwe (Die Serwiër) is in die kollig, terwyl Jean Cooper (Waar die teerpad ophou) inspireer in dié boek oor sy motorfietsreis deur Afrika.
Dit is “Vatso!” wanneer digters Tom Dreyer (Brief op veertigduisend voet), Jennifer Pape (waar daar eens ’n see was) en Muller Minnaar (Die langste jaar ooit) voorlees uit hul bundels en mekaar troef met die woord. Volledige program by innibos.co.za. Kaartjies te koop by TicketPro. Naweekkaartjies (alle boekgesprekke ingesluit) kos R400, of per boekgesprek R50.
Frieda van den Heever tree op Vrydag 28 Augustus tydens die Innibos Boekenaweek vir die eerste keer as solokunstenaar in die Laeveld op met haar vertoning Airdrop – jy is nou hier.
Frieda, veral bekend as voormalige programaanbieder op RSG, se vorige album en vertoning, Spoorsny, het gehore in 2025 diep geraak en verskeie kunstefeespryse ingepalm.

Gehoorlede kan uitsien na ’n intieme aand van woord en musiek waarin sy stories en gedigte verweef. Die vertoning begin om 19:00 by Bohemian Groove Café in Kaapsehoop.
Kaartjies kos R200 en is by TicketPro beskikbaar. Besprekings vir ete voor die vertoning kan by Bohemian by 076 764 7625 gedoen word.

Kom Sondagmiddag saam met Mia en Hancu Louw van die Kaapsehoop Klein Camino-faam en benut die “goue ure” vir ’n praktiese sessie oor hoe om beter foto’s met jou selfoon te neem.
Ontmoet om 15:30 by die parkeerarea in Kaapsehoop.
Hertzogpryswenner Tom Dreyer leer jou hoe om te dig tydens die ATKV Poësiewerkswinkel op Donderdag 27 Augustus by die Kaapsehoop Gastehuis.

Dreyer en Jennifer Pape bied die werkswinkel aan, wat van 10:00 tot 15:00 duur en ’n ligte middagete insluit. Bespreek by Ronel Grundlingh by ronelg@ atkv.org.za.




