KYK: Verruklike boekgesprekke by Innibos Natsteen- en Boekenaweek
Vanjaar se Boekenaweek was een vir die boeke.
Die afgelope Innibos Boekenaweek sal onthou word as een van samesyn en heerlike boekgesprekke.
Die naweek het Donderdagoggend begin by die Kaapsehoop-gastehuis met ’n poësiewerkswinkel geborg deur die ATKV.
Sowat 15 aspirantdigters het aan dié interaktiewe werkswinkel deelgeneem en almal was dit eens dat aanbieders Tom Dreyer en Jennifer Pape uit hulle pad gegaan het om dit so insiggewend as moontlik aan te bied.
Marius Bakkes en Retha Fourie het die eerste gesprek gelei oor Carel van der Merwe se vierde roman, Kansvatter. Ben Viljoen, die hoofkarakter, is ’n veelkantige figuur, charismaties en welsprekend. Sy donker kant word ook nie in die boek misgekyk nie en die laaste hoofstuk som hom empaties op.
Hierna was De Wet Potgieter in gesprek met die bekende oud-omroeper, Albe Grobbelaar. Dit was ’n lekker loslitgesprek oor sy boek, Historiese Almanak: Onthou jy nog?
Dr. Pieter Mulder se Parlementpraatjies was ook ’n hoogtepunt.
’n Skyfievertoning was deel van die aanbieding deur Mulder, wat 30 jaar in die parlement gedien het. Hy het onder sewe presidente gewerk en het met sy skyfievertoning ’n groter en duidelike beeld vir Jan Alleman oor die parlement geskep.
Chris Marnewick se boek, Oscar Pistorius: The Big Lie and the Right to a Fair Trail, is ook bekend gestel en bespreek.
Die boek is ’n uiteensetting van gevolgtrekkings en hoe Pistorius ’n slagoffer van sy leuens geword het en bied ’n blik op sy subjektiewe oortuigings. In kort is die “groot leuen” nie die staatsaanklaers nie, maar die stroom stories wat op sosiale media versprei het.
Hanco Louw se bespreking met Graham Coetzee oor sy opspraakwekkende boek, Zama Zama: Inside the Illicit Mining Underworld, het jou op ’n donker reis deur die ondergrondse tonnel van bedrywighede geneem van die dilemma wat Suid-Afrika tans beleef.
Talle ander boeke deur bekende skrywers soos Debbie Loots en Jean Cooper was ook in die soeklig.
Frieda van de Heever se vertoning, Airdrop – jy is nou hier, was sielskos en ’n vertoning wat nog vir lank onthou sal word vir Frieda se engelstem en gemaklike vertellings.
Annemarie van der Walt, organiseerder van die Boekenaweek, bedank die ATKV, besoekers, skrywers en al die Kaapsehoop-inwoners vir hulle ondersteuning.

Die Natsteennaweek, wat gepaard gegaan het met die Boekenaweek, was soos elke jaar ’n reusesukses. Oudjoernaliste en -kollegas het van vroeg tot laat om ’n spitbraai gekuier.
Isobel Potgieter van Nagkantoor bedank Saronsberg Wyne, die Dagbreek Trust, Letitia Endres van Kellaprince Eiendomme, Laevelder en Die Papier vir hulle volgehoue ondersteuning.
Oor die rand van die glas was die naweek nommerpas!



























