Local news

Dana Snyman palm gesogte boekprys in

Dana Snyman is met die gesogte Netwerk24 kykNET Rapport-niefiksieprys bekroon.

“Ek skryf om gelees te word.”

So het Dana Snyman aan Laevelder vertel nadat hy bekroon is met die Netwerk24 kykNET Rapport-niefiksieprys.

Die swierige geleentheid is Saterdagaand by die Mount Nelson-hotel in Kaapstad aangebied vir skryfwerk wat gedurende 2025 verskyn het. Altesaam vyf boekpryse en twee resensiepryse met ’n totale prysgeld van R1,4 miljoen was op die spel.

Dana Snyman se nuutste pennevrug, Wie de hel is Johnny Joubert?, is bekroon in die niefiksie-afdeling.

Beskeie soos wat Snyman is, vertel hy dat hy uitsluitlik skryf om gelees te word. En sy duisende aanhangers is dit eens dat wanneer jy een van sy boeke optel en agteroorsit, jy dit nie kan neersit nie. Snyman het net ’n manier om jou vasgenael te hou met sy uitnemende skryftalent.

Dana Snyman.

Dit is die tweede kykNET Rapport-niefiksieprys wat Snyman inpalm nadat hy in 2024 ook die gesogte prys vir sy boek, Die binneland in, gewen het.

“Ek is baie dankbaar vir die prys. Om te skryf, is maar ’n alleenbesigheid en ek het in die begin nie baie in die boek geglo nie. ’n Mens skryf vir iemand, nie vir jouself nie, en ek is baie geseënd om dit te kan doen. Ek is besig met ’n nuwe boek, so die prys inspireer my. Dankie aan almal wat die boek gekoop het en my stories lees,” het Snyman gesê.

Een van die beoordelaars, Fredrick de Jager, het die boek op Litnet beskryf as seker die persoonlikste en intiemste portret van rugby – of enige sport – wat daar in Afrikaans is.

“Dit is ’n deurleefde geskiedenis van die sport in die laat 20ste eeu, deurspek met vinjette wat dikwels ver van die hoofweë af ingesamel is. Of, beter gestel, opgedoen is. Dit is net soveel ’n uiterlike reis deur Suid-Afrika as wat dit ’n innerlike reis van die gemoed is,” het De Jager geskryf.

“Die boek is ook ’n reis deur Suid-Afrika se onlangse geskiedenis van onreg en skade. Dit is nie die eerste keer dat, by wyse van hierdie prys, die onderbeklemtoonde en onopsigtelike van hierdie skrywer se werk geëien en erken word nie. Vir die gehalte van die inhoud en die vakmanskap van die skryfwerk word Wie de hel is Johnny Joubert? met 2026 se Netwerk24 kykNET Rapport-niefiksieprys bekroon,” het De Jager afgesluit.

Wel, niemand hoef te wonder wie de hel Dana Snyman is nie.

Hy is Kaapsehoop en sy duisende aanhangers se woordprofeet van formaat.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Bertus de Bruyn

Bertus de Bruyn is based in Mbombela, Mpumalanga. De Bruyn has been employed by Caxton since 2009. After a short sabbatical of two years, De Bruyn is back at the place he called home, Caxton, at Lowveld Media. He is currently the digital content manager, but has 14 years of journalism skills, news editor, and acting editor duties behind his name.
Back to top button