Local news

Laeveld neem afskeid van voormalige nuusredakteur

Na 'n indrukwekkende loopbaan en twee toekennings, neem die Laeveld afskeid van 'n voormalige nuusredakteur.

Dit is met ’n swaar hart dat die Laeveld afskeid neem van ’n oudnuusredakteur, Elsabé Steyn (aan die Laeveld bekend as Elsabé Smit), op 12 Oktober, 2026.

Smit was deel van Laevelder vir ’n dekade en het talle mylpale saam met die publikasie gevier, insluitend die honderdjarige bestaansjaar in 1986.

Smit (née Jacobs) is op 9 September 1941 in Germiston gebore. Sy het skoolgegaan by Delville Laerskool en die Afrikaanse Hoërskool in Lambton, Germiston.

Links: Elsabé Smit tydens haar loopbaan by Laevelder. Middel: Elsabé Smit tydens haar besoek aan Laevelder in 2026. Regs: Laevelder se 100ste bestaansjaar in 1986.  > Foto: Laevelder Argief
Links: Elsabé Smit tydens haar loopbaan by Laevelder. Middel: Elsabé Smit tydens haar besoek aan Laevelder in 2026. Regs: Laevelder se 100ste bestaansjaar in 1986. > Foto: Laevelder Argief

Voor haar aanstelling by Laevelder, het Smit na Mbombela verhuis en as verslaggewer by Beeld gedien.
Smit is in 1977 by Laevelder aangestel as verslaggewer en is in 1981 bevorder tot nuusredakteur en het die posisie beklee tot 1987.

Daarna verhuis sy na Pretoria waar sy by die SAUK aangesluit het tot haar aftrede in 2009. Tydens haar loopbaan was sy vir twee Artes-toekennings benoem.

In 2016 vertel sy aan Laevelder van haar mees indrukwekkende oomblikke tydens haar tyd in die nuuskantoor.

“Van die belangrikste nuusgebeure in my tydperk was die Nkomati-vredesverdrag op 16 Maart 1984. Wyle PW Botha en pres. Samora Machel van Mosambiek het die geskiedkundige nie-aanvalsverdrag onderteken,” sê Smit.

Smit word onthou as ’n storiemens wat vir haar loopbaan geleef het. Enige geleentheid was vir haar ’n storie en skryf was haar lewe.

Elsabé Smit en haar kleinkind, Wiko Swart. > Foto: Facebook/Nimrod Smit
Elsabé Smit en haar kleinkind, Wiko Swart. > Foto: Facebook/Nimrod Smit

Vir haar gesin was sy ’n ware moederfiguur.

Sy het die gesin bymekaar gehou, altyd met rustige krag. Sy was statig en waardig, en het altyd tyd gehad vir almal in haar lewe, hetsy familie, vriende of kollegas.

Smit was ’n kranige tuinier en kon volgens haar naasbestaandes met ’n indrukwekkende tuin spog.

Sy laat haar eggenoot, Thys, vyf kinders, 10 kleinkinders, vyf agterkleinkinders en twee broers agter. Haar familie het versoek om nie besonderhede oor haar gedenkdiens te deel nie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Zane Botes

Zané joined the Lowvelder editorial team in 2026, bringing with her an Honours degree in Journalism and Media Studies from NWU. She covers community and sports news, with broader interests in crime and politics. Zané’s career is driven by a simple conviction: journalism exists to give people a voice, and that begins in your own community.
Back to top button