Jessica – Bryce Courtenay
Jessica is die seun wat Joe Bergman nooit gehad het nie, sy regterhand op die afgeleë plaas waar die Bergman-gesin ʼn sukkelbestaan voer.

Jessica is die seun wat Joe Bergman nooit gehad het nie, sy regterhand op die afgeleë plaas waar die Bergman-gesin ʼn sukkelbestaan voer. Op ʼn dag vind ʼn gruwelmoord plaas en Jessica se oorweldigende sin vir lojaliteit, billikheid en geregtigheid – drie eienskappe wat haar besluite, verhoudings en uiteindelike lotsbestemming duidelik bepaal en definieer – noop haar om die moordenaar, Billy Simple, van die woedende gemeenskap te red.
Na afloop van die traumatiese gebeure is Jessica skandelik swanger. Sy weier om die pa se naam bekend te maak en nege maande later word ʼn seuntjie onder haglike omstandighede gebore. Jessica en haar suster, Meg, het nog nooit oor die weg gekom nie en die geboorte van die baba en die daaropvolgende traumatiese gebeure dryf hul swak verhouding op die spits.
Die tema rondom die vervolging en marginalisering van die inheemse Aborigenes word ook deurgaans in die boek aangespreek.
Die verhaal speel af teen die agtergrond van die Tweede Wêreldoorlog naby die dorp Narrandera in Nieu-Suid-Wallis, Australië. ʼn Voorsmakie van die betowerende beskrywing van die landskap: “This is a landscape beautiful only to those who know that beauty must be hard-won in the mind and the eye as well as the heart. It is a harsh, new beauty with very little antecedent poetry to till and seed the white man’s imagination. A landscape that must be viewed with an Aboriginal eye to see its colours and patterns and cunning shifts in perspective. The whitefella eye is still a long, long way from seeing this land’s dreaming and the whitefella’s heart is not yet fully opened to the high and ancient antipodean sky.”
Jessica van Bryce Courtenay is nie ʼn nuwe boek op die rak nie, maar wel een wat nog lank gelees en waardeer sal word. Die harde werklikheid van ʼn sukkelbestaan teen die agtergrond van die vroeg-twintigste-eeuse Australiese agterveld word met simpatie uitgebeeld en die leser word maklik deel van die oorlewingsstryd. Boonop is die verhaal nie bloot fiktief nie, maar gegrond op die ware verhaal van ʼn onkonvensionele Australiese vrou wat dapper gerebelleer het teen die gebruike en onregverdighede van die tyd.
Bryce Courtenay is een van Suid-Afrika en, saam met Peter Carey, Australië se voorste skrywers en het verskeie topverkoper-boeke op sy kerfstok. Hy is in 1933 in Barberton gebore en in 2012 oorlede in Canberra, Australië. Hy is veral bekend vir sy boek The Power of One wat in Barberton afspeel. Gaan lees gerus meer oor sy interessante geskiedenis en boeke by https://www.brycecourtenay.com.
Elkeen wat lief is vir goed-nagevorste en -geskryfde historiese romans met substansie, sal Jessica geniet. Dit is oor en oor die lees werd!
• Goodreads gradering: 4.09 / 5 (4 483 graderings)
https://www.goodreads.com/book/show/2339.Jessica
