BlogsLife is beautiful - with LiezelOpinion

Fliekvlooi

Ai, ek is lief vir fliek. ’n Regte fliekvlooi! Net jammer ek kry so min tyd tussen die wilde draaie wat die lewe met my loop.

Ai, ek is lief vir fliek. ’n Regte fliekvlooi! Net jammer ek kry so min tyd tussen die wilde draaie wat die lewe met my loop. Hiernatoe en daarnatoe en as ek weer sien, tienuur en die enigste fliek in my onsamehangende drome.

En tog kan ek met ’n gevoel van genoegdoening en dalk ook bietjie heimwee terugdink aan inspirerende flieks wat ek oor die jare gesien het. Dikwels op DVD.

Ons het ’n ietwat buitengewone “home entertainment centre”. Ons enigste televisiestel dateer uit die jaar van onse Heer 2000. Links bo is die fossielskerm versier met ’n permanente pers kol (ons oudste het te veel Barney gekyk…). En die ou ding het hom boonop op ’n onkonvensionele plek staangemaak!

In die huis is daar ’n kamer. ’n Speelgoedkamer. In die kamer is daar ’n kas. ’n Speelgoedkas. En in die kas is daar ’n beeldradio. Ons s’n. En dit is hier waar ons fliek kyk. Nie sonder romantiese atmosfeer nie.

My wederhelfte stel die hele gedoente op terwyl ek ’n poging aanwend om die klein Arnoldi’s in die bed te kry. Hulle wil saam kyk en die trane spat, maar ek is ’n tannie met deursettingsvermoë en kort voor lank daal ’n dankbare stilte neer.

Manlief krap twee kampstoele uit die motorhuis. Ons sit gemaklik met ’n sagte kombersie oor die bene. Selfs twee miniatuur plastiekstoeltjies om moeë voete op te rus. Ligte af. En die kyk begin.

Dikwels kan nie een van ons ná die tyd sê dat die fliek die moeite werd was nie.

Maar soms. Net soms. Kyk ons vol bewondering na mekaar en verklaar uitsonderlike kykgenot. Inspirerend. Pragtig. Hartroerend. ’n Regisseur kon dit regkry om ’n oomblik vas te vang. Die kreatiewe gebruik van kleur. En kontras. Uitsonderlike kamerawerk. Of die storie regverdig verewiging. Iets wat vertel moet word.

Soms voel ons goor. Na so ’n aand in die speelgoedkamer. Dalk oor ’n massa depressiewe oomblikke. Onverskillige seks. Karakters wat soek en net nooit vind nie. Goddeloosheid en lastering. Geweld of ander hartseer. Menslike pyn en lyding wat nooit end kry nie. Verewig in ’n film. En met die jare bly die oplossing ontwyk.

Maar ai, ten spyte van sporadiese teleurstelling, bly ek maar steeds lief vir fliek. ʼn Paar films bly my by. Dalk nie die detail van die hele storie nie, maar wel die detail in sekere oomblikke.

Die flieks hieronder het my verbeelding aangegryp – elkeen vir ʼn ander rede.

  1. My Father’s Glory
  2. The Secret Life of Walter Mitty
  3. Benny and Joon
  4. Girl with a Pearl Earring
  5. Amélie
  6. Motorcycle Diaries
  7. The Silence of the Lambs
  8. The King’s Speech
  9. Cinema Paradiso
  10. American Beauty
  11. A River Runs Through It
  12. The Diving Bell and the Butterfly
  13. The Shawshank Redemption
  14. American History X
  15. Of God and Men
  16. Priscilla, Queen of the Desert
  17. Three Colours Blue
  18. Train Spotting
  19. Hotel Rwanda
  20. A Beautiful Mind
  21. The Grand Budapest Hotel
  22. Groundhog Day
  23. Death at a Funeral (Britse weergawe)

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button