Opinion

Gaan ek nou tronk toe?

Die tjoekie is nie noodwendig jou voorland nie - 'n skuldigbevinding kan lei tot 'n alternatiewe vonnis.

Nie alle boosdoeners beland noodwendig in die tronk nie – daar is baie ander strawwe tot die hof se beskikking wanneer skuldiges gevonnis word.

Suid-Afrikaanse wetgewing maak voorsiening vir ‘n wye spektrum vonnisse wat ‘n oortreder in die gesig kan staar nadat hy/sy skuldig bevind is aan die pleeg van ‘n misdaad. Afhangende van die erns van die misdryf ter sprake, kan die gevonnisde heelwat ligter daarvan afkom.

Voorbeelde van alternatiewe vonnisse aluit die volgende in:
– Boetes: Die Strafproseswet bepaal dat die hof ‘n boete as straf mag oplê. Distrikshowe word beperk tot R 60 000 boetes, terwyl streekshowe beperk word tot boetes van R 300 000. Hooggeregshowe word nie beperk ten opsigte van oplegbare boetes nie.
– Korrektiewe toesig: Hierdie straf behels dat die gevonnisde wel nie tronk toe hoef te gaan nie, maar dat hy byvoorbeeld onder huisarres geplaas kan word of tot die verrig van gemeenskapsdiens beveel kan word. Die voltooiing van programme ter rehabilitasie van die beskuldigde kan ook voorgeskryf word.
– Periodieke gevangenisstraf: Hierdie gevangenisstraf kan tussen 100 en 2000 ure duur en word verdeel in sarsies. Die gevonnisde persoon sal byvoorbeeld op Vrydagaande aanmeld en dan weer op Maandae soggens vrygelaat word totdat die voorgeskrewe aantal ure uitgedien is.
– Opskorting van die persoon se bestuurslisensie word soms as vonnis toegepas, soos in gevalle waar die persoon skuldig bevind word aan dronkbestuur of roekelose- en nalatige bestuur.
– Waar ‘n misdaad met betrekking tot ‘n vuurwapen verrig is, kan die boosdoener onbevioeg verklaar word om ‘n vuurwapen te besit.
– Verbeurdingsbevel: Waar ‘n misdadiger onregverdig of oneties verryk is uit die pleeg van ‘n misdaad, kan daardie voordeel verbeurdverklaar word aan die staat.

Vonnisoplegging kan ook behels dat sommige van hierdie vonnisse tegelykertyd opgelê word. Strawwer vonnisse word vir ernstiger misdrywe toegepas.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button