BlogsLife is beautiful - with LiezelOpinion

Ken jy die Jaspisklimop?

Die plant rank in die boom op en die oordadige trosse jade-kleurige blomme hang in stringe uit die takke af. Verleen aan die andersins gewone, inheemse gasheer-boom ʼn eksotiese beeld.

Die Strongylodon Macrobotrys in Kiaatstraat blom. Sommer op die sypaadjie – nie ‘n plek waar ek noodwendig die skouspelagtige nefriet-kleurige blomme sou verwag nie. Die plant rank in die boom op en die oordadige trosse jade-kleurige blomme hang in stringe uit die takke af. Verleen aan die andersins gewone, inheemse gasheer-boom ‘n eksotiese beeld.

Daar is nog twee Strongylodon Macrobotrys – beter bekend as “jade vines” of jaspisklimops – waarvan ek weet in Witrivier. Een het ‘n digte prieel gevorm in Van Riebeeckstraat en die ander groei ook iewers op ‘n sypaadjie.

Ek kan die eerste keer wat ek ʼn jaspisklimop gesien het, goed onthou. Die oordadigheid het my onkant betrap. Ek het verstom na die eksotiese kleur gestaar en die uitspattigheid het my mond laat oopval. Dit was nie net die kleur wat my betower het nie, maar ook die vorm van die blomme en die wavrag bloeisels aan elke stingel.

Later het ek uitgevind dat die jaspisklimop endemies in die Filippyne is. En my vir ‘n wyle verstom aan die vrygewigheid van die Een wat alles geskep het.

Ek wou maar net oor die wonder van die Jaspisklimop skryf. Oor lente in die Laeveld en die natuur wat met tasbare afwagting uitsien na die eerste somerreën. Oor die grasspriete wat oral oor die verskroeide aarde kop uitsteek en die vuurlelies wat blom.

Die hele Laeveld bot. Nie net die Jaspisklimop nie. En ek wil op geen ander plek wees nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button