Nou weet ons almal: Sonja Loots haat huisvroue
My eerste reaksie op Sonja se vernederende artikel is om haar die handskoen toe te werp en op die oorlogspad te klim. Maar, helaas, 'n mens moet tog besef dat die oorlogspad nie noodwendig die mees produktiewe weg is nie. Veral nie in 'n wêreld waar nie-werkende vroue deesdae as’t ware as 'n minderheidsgroep beskou kan word nie. Dertig, veertig jaar terug was dit 'n ander saak en het die maritale mag van die man vroue stewig in die kombuis vasgedruk. Tye het egter verander en tans, as ek dit nou reg verstaan, bevind die meeste vroue hul in die arbeidsmark.

Gisteraand sit ek niksvermoedend, vreedsaam en ietwat ydel voor my rekenaar. Lees en antwoord e-posse, loer bietjie wat een en almal op Facebook deel ensovoorts. Die kinders is in die bed en die naweek het sy stert gesien.
“Niksvermoedend en vreedsaam” verander kort voor lank in “verstom en geamuseerd”. En, as ek nou maar eerder móét bieg as lieg, effe vererg.
Netwerk24 deel in “menings” Sonja Loots se opinie oor huisvroue getiteld “Huisvroue gee my krampe en naarheid”. Die naam “Sonja Loots” speel ‘n deuntjie wat ek nie dadelik erken nie, en ek gaan lees ‘n kort CV by https://www.tafelberg.com/authors/8075.
Óf Sonja haat werklik huisvroue óf sy was net lus om ʼn paar mense se hokke te skud – dalk het sy reklame nodig. In ieder geval het die aanslag gewerk. Haar mening oor huisvroue beklee die topposisie op Netwerk24 se webwerf met Tim du Plessis se artikel oor die huidige stand van sake in Suid-Afrika in die tweede plek en President Zuma se skokkende onthullings dat korrupsie maar net ʼn Westerse konsep is, in die derde posisie. Kan jy nou meer…
My eerste reaksie op Sonja se vernederende artikel is om haar die handskoen toe te werp en op die oorlogspad te klim. Maar, helaas, ‘n mens moet tog besef dat die oorlogspad nie noodwendig die mees produktiewe weg is nie. Veral nie in ‘n wêreld waar nie-werkende vroue deesdae as’t ware as ʼn minderheidsgroep beskou kan word nie. Dertig, veertig jaar terug was dit ʼn ander saak en het die maritale mag van die man menige vrou stewig in die kombuis vasgedruk. Tye het egter verander en tans, as ek dit nou reg verstaan, bevind die meeste vroue hul in die arbeidsmark.
Een tema in die aangrypende boek The Puppet Boy of Warsaw het by my vasgesteek: Elke saak het veelvoudige kante. Ek het dus besluit om nie vir Sonja aan te val nie, maar dalk eerder te illustreer dat hierdie duidelike warm onderwerp ook ‘n ander kant het.
Wat is ‘n huisvrou? Sommige mense het een maal te veel Desperate Housewives gekyk en mag dalk ‘n verwronge idee rondom die definisie van “’n huisvrou” koester. Die reeks versterk die algemene, negatiewe opinie rondom geslagsrolle en stereotipes en behoort niemand aan te staan nie. Verder vermoed ek dat die nuwe Suid-Afrikaanse reeks Real Housewives of Johannesburg, waarna Sonja ook verwys, beslis nie gaan bydra tot versagting van stereotipering en vooropgestelde idees nie. Inteendeel…
Wat ek met hierdie skrywe wil beklemtoon is die feit dat elke vrou toegelaat moet word om haar eie besluite te neem. Ander se boeke en situasies bly tog maar duister.
Ek is seker verskillende vroue neem vir verskeie redes uiteenlopende toekomsbesluite. Sommiges besluit om hulself goed te kwalifiseer en staan hul skoene in die korporatiewe wêreld en arbeidsmark vol. Ander kwalifiseer hulself deeglik en besluit dan om eerder hul kinders tuis te versorg. ‘n Derde groep probeer om albei roetes te stap. Hulle is 24/7 beskikbaar vir hul kinders, bestuur ʼn huishouding en werk ook – moontlik van die huis af. ‘n Ander klas vroue, waarmee ek bitter min te doen kry, besluit sekerlik om nie te werk nie, maar óók om nie na hul kinders om te sien nie. ʼn Beskutte finansiële posisie het tot gevolg dat hierdie vroue nie hoef te werk óf na hul kinders om te sien nie. Ek is nie seker waarmee hierdie groep hulself besig hou nie, maar ek dink dit is húlle waarna Sonja in haar veroordelende artikel verwys as “mense wat dag na dag tuis bly om na hul swembadpompe te luister.” Ek klassifiseer egter nie hierdie vroue as “voltydse mammas” (volgens Sonja) nie en veroordeel hul ook nie vir hul keuses nie.
Net om seker te maak dat ons op dieselfde bladsy krabbel gaan ek myself nou reg in moontlike felle spervuur plaas: Ek is deel van die derde groep vroue wat professioneel gekwalifiseer is, maar later besluit het om eerder my toekomsplanne tot voordeel van my kinders te verander. My liewe, liewe ma het in die tweede kategorie geval. Dit is ook uit hierdie oogpunt wat ek skryf. Ek kan, vir voor die handliggende redes, nie namens die ander groepe praat nie.
Sonja gebruik in haar artikel afbrekende woorde en frases soos “allergie”, “voltydse mamma maak my naar”, “slonskous”, “die wêreld vind min baat by mense wat dag ná dag tuis bly om na die gedreun van hul swembadpompe te luister”, “leeglê” en “ledige ure”. Ek is nie onbekend met die spervuur rondom die onderwerp nie. Iemand na aan my het al verskeie male smalend na my keuse verwys en selfs die neerhalende term “rich bitch” in dieselfde asem as my naam gebruik. Sy kan ook nie glo dat ek besig en soms moeg is nie. Ai, die Arnoldi’s van Witrivier sou dalk ‘n swembad met die meegaande pomp kon bekostig as ek besluit het om eerder my beroep in al sy glorie te beoefen.
Ek wil vir Sonja ‘n vraag vra: “As ek jou CV lees, moet jy tog intelligent wees. Om alle vroue wat ʼn ander besluit as jy geneem het oor dieselfde verfoesde kam te skeer, is soos om te sê dat alle werkende vroue hul kinders van nege tot vyf afskakel en in ‘n kas bêre – jou eie woorde, net so terloops. Hoekom het jy dit goedgedink om ‘n hele groep vroue vir hul keuse te verkleineer?”
Die gedagte of behoefte om werkende vroue op sosiale media by te kom, het nog nooit by my opgekom nie. Selfs nie nou, nadat ek hierdie artikel gelees het nie.
Skyn die son oor Sonja Loots? Ek wonder… As dit wel die geval is, wonder ek verder hoekom sy dit dan nodig ag om die reën te wees wat die son verdryf wat oor ‘n ander se kop skyn? Die klein jakkalsie wat ‘n ander se wingerd verniel? Ek dink dit is ʼn vraag wat nét Sonja kan antwoord…
