BlogsLife is beautiful - with LiezelOpinion

“Kwotas en puntestelsels maak Suid-Afrikaners sterker”

Optimisme is dun gesaai – met goeie rede as 'n mens gereeld nuus kyk en lees. Dit is maklik om in pessimisme en wanhoop te baai. Vir hierdie rede het die artikel VOLKSBLAD SÊ: KWOTAS: WERK VIR JOU KANS dadelik my oog gevang. Dalk nie soseer die titel nie, maar wel die inleidende sin: “Kwotas en puntestelsels maak Suid-Afrikaners sterker...

Ons braai. Selfs die vroue kloek om die geselligheid van die braaivleisvuur. Die manne met ’n glasie in die een hand en ’n lang braaitang in die ander. Dit is net tjops, wors en bloubul-biefstuk waar jy kyk. Monde water. Paptert, mengelslaai en braaibroodjies. Njam-njam.

Maar ai, saam met die braai kom die braaipraatjies. En braaipraatjies handel gewoonlik oor een of meer van die volgende onderwerpe:

Korrupsie. Plaasmoorde. Misdaadsyfers skiet die hoogtes in. Regstellende aksie wil nie end kry nie. Afrikaans is besig om ’n stadige dood te sterf. Die regering is onbekwaam en spandabelrig. Boonop het die term “bandjies vir boeties” nuwe betekenis gekry sedert 1994. Onderwys is vrot en privaatskole te duur. En so aan. En so aan.

Ons sit aan die onderpunt van Afrika. Fokus dikwels op die donkerte van die kontinent.

Die stem van ons geliefdes het stil geword. Suid-Afrika het in te veel oë sy skoonheid verloor. Die sleg en lelik het stadig nader gekruip en diep in almal se holtes kom lê. Demokrasie het gefaal. Anargie heers in die strate en die politiek is ’n ingewikkelde doolhof van doodloop punte. Wat het oorgebly?

Optimisme is dun gesaai – met goeie rede as ʼn mens gereeld nuus kyk en lees. Dit is maklik om in pessimisme en wanhoop te baai.

Vir hierdie rede het die artikel Volksblad sê: Kwotas: Wérk vir jou kans dadelik my oog gevang. Dalk nie soseer die titel nie, maar wel die inleidende sin: “Kwotas en puntestelsels maak Suid-Afrikaners sterker, het Louis van der Watt, uitvoerende hoof van die Atterbury-groep en ’n wild- en beesboer op Landbouweekblad se landboukonferensie in Bloemfontein aan ‘n uitgelese gehoor gesê.”

Die volgende sin lees: “Dit is werklik ’n interessante standpunt en ’n nuwe blik op ’n onderwerp wat Suid-Afrikaners erg verdeel.”

Lees die volle artikel by https://www.netwerk24.com/stemme/2014-11-03-volksblad-s-kwotas-wrk-vir-jou-kans?vc=9544e24ee9d529b6400172b8cb45438d. Lees tot die einde. Dit is interessant en bied uitstekende stof tot nadenke.

Ek het bietjie gaan lees oor Louis van der Watt en dít wat ek sien, laat my dink hy is nie onder ‘n kalkoen uitgebroei nie. So, dalk is dit die moeite werd om te dink oor sy woorde. Nie om noodwendig saam te stem nie, maar net daaroor te dink.

Ek sal graag wil hoor wat Laevelders oor hierdie unieke standpunt rondom ‘n netelige situasie te sê het…

 
Back to top button