1 April in die middel van November
Hierdie week het die nuus handuit geruk. Ek kon sweer dit is 1 April in die middel van November. Sommige van die berigte het aan die absurde gegrens en my stomgeslaan. Dit het nuwe betekenis gegee aan die gesegde: “Never a dull moment.”

’n Nuwe woord het die lig gesien: “parlemonium”. Gebore uit die chaos wat Donderdag in die parlement geheers het. Die speaker, Baleka Mbete, was in kookwarm sop omdat sy eensydig die tyd vir mosies wou verkort. Die opposisie het op tafels geslaan terwyl hulle dreunsing: “Jy moet gaan!” ” (sien Netwerk24 vir die berig). Later moes parlementêre beamptes en lede tussenbeide tree toe Lindiwe Zulu, minister van kleinsake-ontwikkeling, buite die raadsaal van die Nasionale Vergadering haar naels in al hul glorie vir die EFF uitgetrek het (News24). Maar moenie dink dis waar dit gestop het nie. Hoe later, hoe kwater. Die onluspolisie het Donderdagaand die parlement binnegestorm en in ’n geveg met LP’s betrokke geraak. Hulle het gepoog om Ngwanamakwetle Mashabela, EFF-LP, van die podium te verwyder terwyl sy skreeu: “Ek wil nie aan gevat word nie!” (Netwerk24) Verder het dr. Corné Mulder foto’s vertoon van Mmamoloko Kubayi en Doris Dlakude, twee parlementslede in die ANC-kamp, wat sit en naellak aansmeer in ’n sitting van die Nkandla-komitee. En om alles te kroon is President Zuma parlementêr van alle blaam rondom Nkandla-gate onthef.
Ai jai jai.
Mediahuise is bekend vir Gekkedag-kapperjolle. Op 1 April 1992 het ’n Amerikaanse radiostasie opslae gemaak toe hulle aangekondig het dat Nixon weer vir president sou staan. Sy nuwe veldtog-slagspreuk sou wees “I didn’t do anything wrong, and I won’t do it again” en die aankondiging het selfs gepaardgegaan met ’n onderhoud met Nixon. Nadat ontstoke luisteraars ingebel het, het die omroeper hulle daaraan herinner dat dit 1 April is.
Maar in Suid-Afrika is dit bykans elke dag Gekkedag. Hierdie week, veral, het die nuus handuit geruk. Ek kon sweer dit is 1 April in die middel van November. Sommige van die berigte het aan die absurde gegrens en my stomgeslaan.
Vroeër in die week het die EFF blykbaar ’n stalletjie in Nelmapius opgeslaan waar hulle grond weggegee het. Belangstellendes het in toue gestaan, hul name op ’n lys geplaas en begin huis opsit nadat ’n erf aan hul toegeken is. By navrae het die EFF doodluiters verklaar dat hulle maar net hul beleid van grondonteiening sonder vergoeding uitvoer (lees een van die talle berigte by Netwerk24). Dit alles terwyl Juju met studieverlof is. Raar maar waar.
Die bekende aktrise Yvonne van den Bergh het op Facebook uit die kas gefoeter en onthul dat sy ’n dominatrix is en BDSM (sado-masochisme en gebondenheid) as haar “tweede beroep en groot liefde” beskou. Sy het blykbaar haar fetisj van kleintyd af weggesteek uit vrees vir vooroordeel en veroordeling. Maar troos jouself daaraan dat sy klere aanhet terwyl sy haar poedelnaakte slagoffers straf. Ek vra myself of ek dit wou geweet het?
Een en almal kan ook nou hul liefde vir ons land en president bewys deur by te dra tot afbetaling van Zuma se Nkandla-skuld. Stuur net ’n sms na *** en R30 gaan af as jou bydrae tot die effektiwiteit van die parlement (News24). Nee, dit is regtig nie net ‘n 1 April-grappie nie!
Oscar en Krejcir oefen saam in die tronk. ’n Vrou is besteel deur ’n biddende dief. Die opruierige EFF blameer die ANC vir chaos in die parlement. ’n Pasgebore baba is in die bosse gevind. Paramedici los twee bebloede padwoede-opponente om hul eie moeilikheid uit te sorteer. ’n Tandarts het ’n tuinwerker met ’n sambok bygekom. Philisiwe Mthethwa, hoof van die Nasionale Bemagtigingsfonds, verdien meer as die president. ’n Motorfietsbendeoorlog dreig in Bloemfontein. Terwyl werknemers van Rob Ferreira Hospitaal voor die hekke brand, sing en toyi-toyi om hul ontevredenheid te wys, ontbind ’n lyk op die derde verdieping.
So gaan die nuus aan. Alles ín Suid-Afrika. Gee nuwe betekenis aan die gesegde: “Never a dull moment.”
I just have to, nééd to, love Africa!
