BlogsLife is beautiful - with LiezelOpinion

Kindermarteling: video skok

Die laaste twee dae is ek menige maal in die nuus gekonfronteer met kindermarteling, -moord, -verkragting en -verwaarlosing. Dit skok my dieper as enigiets anders op die aarde en in die hemele. Veral die video van die Ugandese kinderoppasser... Moet asseblief nie die video kyk as jy sensitief is nie. Dit is afskuwekkend.

Kinders. Is die mees kwesbare skepsels op aarde. Onryp en beïnvloedbaar. Hulle is soos sponse wat álle druppels gretig opdrink – negatief én positief. Hulle is vormbaar en breekbaar. Sag en elasties. Hulle is hipergevoelig vir omstandighede en enige impulse wat die vrede versteur.

Kinders kan nie weghardloop nie. Hulle is uitgelewer aan die huidige samelewing wat dikwels siek en verwronge is. Hulle is ook uitgelewer aan die voorbeeld wat ouers, onderwysers en ander volwasse rolmodelle stel. En hierdie voorbeelde laat telkens veel te wense oor. Hulle word maklik blootgestel aan mishandeling, kinderpornografie, pedofilie, seksuele molestering, gesinsgeweld en ander verderflike, skadelike tydverdrywe.

Maar nie net dít nie. Dink maar aan ‘n kind wat miskien nie aan die bogenoemde booshede blootgestel word nie, maar wel aan die volgende: negatiwiteit, vrees en angs, haatdraendheid, onvergewensgesindheid, rassisme en xenofobie, ondankbaarheid, skadelike TV-programme en speletjies en DVD’s, onnodige prestasiedruk, emosionele verwaarlosing, ouers wat vloek en drank misbruik – al is dit maar net by geleentheid en ‘n gebrek aan dissipline.

Kinders is produkte van hul omstandighede.

Ai, in die reg praat hulle van ‘n eierdop-skedel-geval. Dit verwys na iemand wat om die een of ander rede broos is. ‘n Kind is van nature ‘n eierdop-skedel-geval. Dit kan seker vergelyk word met ‘n rekenaarspeletjie wat geskryf of geprogrammeer word. Die uiteindelike speletjie wat op die rak verskyn is ‘n spieëlbeeld van die programmeerder. Dink aan speletjie soos Doom III, Resident Evil, Alone in the Dark, The Thing, Left4Dead, Silent Hill: Shattered Memories, Deadly Premonition, The Evil Within en nog honderde ander. Hierdie name kan net sowel titels wees van die biografieë van heelparty kinders!

Jesus Christus het geweet. Hy het so goed geweet. Dat kinders spesiale koestering nodig het. Die straf vir iemand wat ‘n kind laat struikel is swaar. Baie swaar. Hy praat van ‘n straf wat swaarder is as die spreekwoordelike meulsteen om die nek.

Besef ons die las van die opdrag? Besef ons die geweldige druk van die verantwoordelikheid? Verstaan ons werklik wat van ons, as volwassenes, verwag word? Besef ons dat ‘n tiener maar eintlik net so broos soos ‘n kleine pasgebore babatjie is?

Die laaste twee dae is ek menige maal in die nuus gekonfronteer met kindermarteling, -moord, -verkragting en -verwaarlosing. Dit skok my dieper as enigiets anders op die aarde en in die hemele.

Veral die video van die Ugandese kinderoppasser… Moet asseblief nie die video kyk as jy sensitief is nie. Dit is afskuwekkend. Dit het wel vir my – ook ‘n sensitiewe kyker – ‘n reële kleur aan woorde en nuus oor mishandeling, of eerder marteling, gegee. Dit het my walging vir iemand wat hom of haar daaraan skuldig maak verdiep. En dít is nie noodwendig ‘n slegte ding nie.

Wat my die meeste skok is die feit dat die dogtertjie steeds styf teen haar oppasser sit, al is sy waarskynlik in die verlede menige maal reeds deur dieselfde vrou aangerand. Dit staaf die feit dat kinders broser as ‘n duifeier is. En hulle kan nie weghardloop nie. Al wil hulle ook.

Ons kan nooit ophou om met deernis vir kinders te bid nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button