50 Skakerings van Opgefoeter
FIFTY SHADES OF GREY. Die hele wêreld was eers lustig gaande oor die boek en sien nou met liriese opgewondenheid uit na die fliek wat op Valentynsdag vrygestel word. My hele Facebook-muur is beplak met skakels na lokprente en selfs ’n webwerf waar die besoeker Christian Grey is woning kan besoek. Tog is daar iets wat my verhoed om die boek te lees en die fliek te gaan kyk. Wat kan dit wees?

“Why don’t you like to be touched” Ana whispered, staring up into soft grey eyes. “Because I’m fifty shades of f**cked-up, Anastasia”
Vyftig skakerings van opgefoeter.
Nee. Ek het nie Fifty Shades of Grey gelees nie. Die aanhaling hierbo – een van honderde uit die boek – het ek op die internet opgespoor. En nee. Om die boek te lees is nie deel van my beplanning nie. Ook ’n duidelike “Nee!” as antwoord op die vraag of ek beplan om die fliek te kyk.
Van die begin af het iets my gepla van Fifty Shades of Grey. Ek is nie doodseker presies wát nie. Iets het my gekeer om die boek te lees. En iets keer my om die fliek te gaan kyk. Al is daar ook ’n menslike nuuskierigheid en liggaamlike, of eerder vleeslike, hunkering om dit wél te doen. Ek wonder wat my verhoed, wat my wegkeer. Iets blaas die gevoelens van renons aan.
“This is a man in need. His fear is naked and obvious, but he’s lost. . . Somewhere in his darkness. His eyes wide and bleak and tortured. I can soothe him.Join him briefly in the darkness and bring him into the light.”
Die hele wêreld was eers lustig gaande oor die boek en sien nou met liriese opgewondenheid uit na die fliek wat op Valentynsdag vrygestel word. My hele Facebook-muur is beplak met skakels na lokprente en selfs ’n webwerf waar die besoeker Christian Grey is woning kan besoek.
Ek het besef dat ek nie hierdie opiniestuk heeltemal oningelig kan skryf nie en het twee lokprente (movie trailers) gekyk en bolangs nagelees oor die boek en fliek. Die lokprente is op YouTube beskikbaar. Een van die lokprente is op 24 Januarie gelaai en reeds 2 797 883 gekyk en ’n ander wat reeds ses maande gelede geplaas is, is bykans 53 miljoen kere gekyk. Die lokprente drup van wellustige spanning en vuurwarm seksuele suggestie. Selfs die musiek belowe ’n goeie dosis erotika. Luister na “I Earned It” deur die groep The Weeknd, een van die klankbaan-liedjies, en kyk na die musiekvideo. Maar net as jy kans sien. Dit is immers nie vir preutse kykers nie.
Die boek-statistieke is oorweldigend. Kyk gerus na hierdie “infographic”. Fifty Shades of Grey is die boek wat tot dusver die vinnigste ooit ’n miljoen kopieë verkoop het. Dit is ook die eerste boek wat op Amazon ’n miljoen e-boeke verkoop het. Altesame is daar reeds meer as 100 miljoen kopieë van die boek verkoop.
Nog ’n statistiek is die feit dat die woord “holy” blykbaar 147 male in die boek gebruik word. Sekerlik “holy” soos in “heilig” soos in – volgens my begrip van die woord – “aan God opdra, aan God toewy”. ’n Woord wat in menige fliek en boek ’n kragwoord geword het om skok uit te spreek. Ek sal nou nie kan sê in watter “heilige” konteks die woord in die fliek gebruik word nie. Dalk kan ’n aanhanger van Fifty Shades my toelig.
Oënskynlik het die boek ook tot gevolg gehad dat die BDSM-verkope in sekswinkels aansienlik gestyg het. Net ter inligting: BDSM staan vir “Bondage and Discipline, Dominance and Submission, Sadism and Masochism”. Ek gaan nie die begrippe verduidelik nie. Daar is genoeg internetbronne – sommiges net ter inligting en ander meer klandestien – wat meer sê oor hierdie praktyke. Laevelder het tot gister ’n berig op hul webwerf geplaas genaamd “DIY stores ready for kinky ‘Fifty Shades’ customers” .
“You sound like a control freak.” The words are out of my mouth before I can stop them. “Oh, I exercise control in all things, Miss Steele,” he says without a trace of humor in his smile.”
Die ouderdomsbeperking is, volgens my, onrusbarend laag op 16(LNS). Reg. Sestien. Wil ek hê my sestienjarige seun of dogter moet dit kyk? Wil ek hê my sestienjarige seun of dogter se meisie of ou moet dit kyk? Hmmm. Nee.
Om terug te kom na die vraag wat ek myself afvra: Waarom het ek besluit om nie die boek te lees of die fliek te kyk nie?
Wakker dit geweld teen vroue aan? Dit is een van die mees genoemde redes waarom niemand die fliek behoort te ondersteun nie. Gaan lees maar een so ’n berig deur The Daily Mail. Daar is hordes ander soortgelyke berigte en opiniestukke ook op die internet beskikbaar.
Is dit pornografie? Ek is nie seker nie. Ek het immers nie die fliek gesien nie. Wat ís pornografie in elk geval? ’n Aanlyn-regswoordeboek beskryf pornografie as die voorstelling van seksuele gedrag in boeke, tydskrifte, foto’s, films en ander media wat eroties, wellustig en seksueel prikkelend is. Voldoen Fifty Shades aan hierdie definisie? Ek weet wel dat die lokprente erotika, wellus en seks belowe. Die aanhangers van Fifty Shades of Grey sal dalk ’n beter antwoord kan gee. Of redes waarom dit nié as pornografie beskou moet word nie.
Gewoonlik word die kýk van pornografie voor die manne se deure gelê. Vroue, dink ek, is meer geneig om erotika en romanses te léés. Of dalk is dit besig om te verander. Lauren Dubinsky is ’n gewilde blogger op The Huffington Post se webwerf. Sy het ’n blog getiteld “What I Wish I’d Known Before Watching Porn” geskryf. Lees dit gerus! Dit is immers vroue wat in die eerste plek so gaande geraak het oor Fifty Shades.
“[Ana] “You’re a sadist?”
“I’m a Dominant.” His eyes are a scorching gray, intense.
“What does that mean?” I whisper.
“It means I want you to willingly surrender yourself to me, in all things.”
I frown at him as I try to assimilate this idea.
“Why would I do that?”
“To please me,” he whispers as he cocks his head to one side, and I see a ghost of a smile.
Please him! He wants me to please him! I think my mouth drops open. Please Christian Grey. And I realize, in that moment, that yes, that’s exactly what I want to do. I want him to be damned delighted with me. It’s a revelation.”
The Telegraph gee drie redes waarom vroue die fliek behoort te kyk. In die eerste plek belowe die sekstonele, volgens hulle, om vir vroue spesifiek seksueel stimulerend te wees. Die feit dat die regisseur ’n vrou is en met ’n vroulike dominatrix gekonsulteer het voordat sy die fliek aangepak het, moet blykbaar gevier word. In die tweede plek is dit klaarblyklik ’n prettige Valentynsdag-uitstappie vir paartjies of groepe enkellopende vriende. Die derde redes wat hulle verskaf is die feit dat mense wat te lui is om die boek te lees nou die fliek kan kyk.
Ek is nie seker of enige van die redes goeie redes is nie.
Ek gaan steeds nie die fliek kyk nie. Daar is iets wat my daarteen waarsku. Ek wéét maar te goed Wie hierdie “iets” in my oor fluister. Ek is immers ’n gelowige Christen. Welke feit my nou noop om ’n enkele teks aan te haal. Of ek nou wil of nie. Die Bybel belowe tog dat die klippe sal uitroep as ons stilbly.
“Die lamp van die liggaam is die oog. As jou oog goed is, sal jou hele liggaam lig hê. Maar as jou oog sleg is, sal jou hele liggaam sonder lig wees. As die lig in jou donker is, hoe donker moet dit dan nie wees nie!” (Matteus 6)
(Die aanhalings is almal uit die boek Fifty Shades of Grey. Die laaste aanhaling is uit die 1983-vertaling van die Afrikaanse Bybel.)
