BlogsLife is beautiful - with LiezelOpinion

Karen Zoid en Van Coke – Wil jy nou meer?

Nou weet jy wat die KKNK met my gly in Karen Zoid uit te waai het. Maar wat het my gly in Karen Zoid en Francois Van Coke – wat my nie eintlik aanstaan nie – met mekaar in gemeen? En waarom, op hierdie aarde, skryf ek oor hulle?

Ek is mal oor die KKNK. Oor die Karoo-vibe en die 40º-sweet. Oor Afrikaans en drama en dans en kuns. Die venues en die kos. Ek vrek oor die veerpaleise en die benoude Kango Grotte. Oor die pittige Kleurlinge en die duisende mense wat almal ’n enkele oogmerk het: liefde vir ’n taal en sy mense.

Een jaar lank gelede het ek en Frans, my wederhelfte, die Karoo van George se kant af binne gesuiker. Kaartjies vir musiek, drama, boekpraatjies, komedie en ander heerlikhede in die hand. Die shows het ons sakke geruk en ons was genoop om in die polisiebarakke onder grys kombersies te slaap en badkamers met ander finansieel-desperate, entoesiastiese feesgangers te deel.

Een ding van daardie KKNK onthou ek soos daglig: Ons het haastig op pad na die volgende show agter op ’n driewiel-taxi gespring. Die teeny-weeny taxi het spasie vir omtrent vier mense gehad, maar die norse student-bestuurder het ses opgelaai. Ek het reg voor die reuse-speaker geland wat die helfte van die taxi volgestaan het en Karen Zoid het my ore afgeblaas met: Afrikaners is plesierig / Dit kan julle glo / Hulle hou van partytjie / En dan maak hulle so / Babe is jy nog lief vir my? / Du-du — du-du / Babe is jy nog lief vir my? / Du-du — du-du / Babe is jy nog lief vir my? / Du-du — du-du / Ek gaan iemand anders kry.

Karen was daai tyd kwaad. Baie kwaad. Ek was nie. Ons was salig-gelukkig op pad na nog ’n uithaler produksie. Pasgetroud en steeds doenig in die sewende hemel.

En net daar het ek ’n gly in Karen Zoid gevang.

Daardie gly het bly klou tot vanoggend toe.

Francois Badenhorst, beter bekend as Francois Van Coke, is ’n aardige karakter. Ek luister nie na F*k*fpolisiekar of Van Coke Kartel nie. Tog word hy deur baie as van die beste Afrikaanse rock-kunstenaars gereken.

Reg. Nou weet jy wat die KKNK met my gly in Karen Zoid uit te waai het. Maar wat het my gly in Karen Zoid en Francois Van Coke – wat my nie eintlik aanstaan nie – met mekaar in gemeen?

Net een ding:

Toe vind ek jou is van die mooiste lirieke en musiek wat ooit in Afrikaans geskryf is – volgens my, in elk geval. Karen en Francois se ooglopende passie en liefde vir musiek het my dronk geslaan en betower. Die geblêr op ’n driewiel-taxi lank gelede en die kontroversiële naam van ’n Suid-Afrikaanse rockgroep is vereers na die agtergrond geskuif.

Ek gaan Francois Van Coke se solo-album koop. Sommer môre as ek die CD in die hande kan kry. Dit kan op my boekrak rus saam met Radio Kalahari Orkes, Stef Bos, Valiant Swart, Johannes Kerkorrel en ander minder populêre Afrikaanse musiek.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button