BlogsLife is beautiful - with LiezelOpinion

Oor enkelouers en die onderhoud-monster

My hart gaan uit na al die enkelouers wat maand na maand die sente moet omdraai. Wat die moedelose boeke moet laat klop en keer op keer finansiële ruïnasie in die gesig staar. Ek voel woedend as ek aan die onskuldiges dink. Die kinders wie se lot deur geld – ’n tekórt aan geld – bepaal word. Hierdie kinders is die slagoffers van die onderhoud-monster.

Ken jy die frustrasie? Die ure op moedverloor se vlakte en die gevoelens van hopeloosheid? Weet jy hoe voel woede en hartseer? Dalk selfs pyn en lyding?

My hart gaan uit na al die enkelouers wat maand na maand die sente moet omdraai. Wat die moedelose boeke moet laat klop en keer op keer finansiële ruïnasie in die gesig staar.

Ek voel woedend as ek aan die onskuldiges dink. Die kinders wie se lot deur geld – ’n tekórt aan geld – bepaal word. Kinders wat nie net van luukses weerhou word nie, maar selfs van basiese benodighede.

Hierdie kinders is die slagoffers van die onderhoud-monster.

Ek voel wraaksugtig as ek aan die verwaarlosers, mishandelaars en wanbetalers dink. Dit steek my dwars in die krop.

Iemand na aan my was getroud. ’n Pragtige, pragtige dogtertjie is uit die huwelik gebore. Toe egskeiding. En saam met die egskeiding het sy én die kind ’n hel van onderhoudsvordering betree. Dit is ’n oorlog wat nooit ophou nie. Waar daar geen wenners is nie – nét verloorders en platgeslaenes. Nét verstotes en ekonomies-mishandeldes. Maar, helaas, “on march the banners of the King of Hell,” soos Dante Alighieri in Inferno skryf.

Ek weet van die ure in die Onderhoudshof in die middestad van Pretoria. Van die onbekwame hofbeamptes en die lang wag – die onderhoudshof-rolle is tot oorlopens toe vol. Ek weet van die blootlê van huishoudelike uitgawes en die stryd om strokies van elke denkbare uitgawe te bêre. Van prokureurs wat die proses probeer sloer en werkgewers wat arrogant weier om besoldiging-beslagleggingsbevele op tyd oor te betaal.

Maar ek weet ook van bekwame onderhoudsbeamptes en simpatieke landdroste wat dikker as dik is vir pa’s wat hulle saad saai en dan weier om dit water te gee.

Ek haal my hoed af vir enkelouers wat die stryd om onderhoud stry. Wat kinders versorg en die pot aan die kook hou. Ek bid dat die kinders se wonde sal genees. En dat die ouers sal moed hou.

Maar ek haal óók my hoed af vir die onderhoudspligtige ouers wat wel hul plig nakom en hul kinders versorg so goed hul kan.

48% van kinders in Suid-Afrika vorm deel van enkelouer-gesinne – om en by 9 miljoen kinders.

Die regering is besig om belangrike wysigings aan die Onderhoudswet aan te bring. Ek was opgewonde tot die ANC in die afgelope week gevra het dat die klousule wat bepaal dat wanbetalers se name op die swartlys verskyn, geskrap word. Ek wonder hoekom? Is dit nie President Zuma se seun wat ’n paar maande terug in die nuus was omdat hy nie onderhoud betaal nie?

Die ironie is dat my naam môre op die swartlys sal verskyn as ek vandag nalaat om die paaiement op my voertuig of yskas te betaal. Maar derduisende onderhoudspligtiges wat in versuim is, loop arrogant rond sonder dat enige noemenswaardige stappe geneem word. Dit is niks snaaks om ’n ouer raak te loop wat honderdeduisende rande agterstallig met onderhousbetalings is nie.

Vandag ondersteun ek die DA se petisie wat vra dat die name van alle wanbetalers van onderhoud op die swartlys verskyn. Hulle vra ook dat wanbetalers se bankrekeninge gevries word in uitsonderlike gevalle. Ek stem!

Vir die ouers wat alleen sukkel: Ek bid dat jy hope deursettingsvermoë sal hê. Dat jy op onverwagte plekke hulp en deernis sal vind. Ek bid dat jy met genoeg hoop en moed en geloof die wa deur die drif sal trek. Dat jy meer liefde as haat sal voel. Meer lig as donker sal sien. En dat jy uiteindelik, as jou kind(ers) uit die huis is, sal terugkyk en sien dat die nimmereindigende oorlog die moeite werd was. Ek bid.

Vir die gereelde betalers van onderhoud: Dankie en doen so voort. Mag jou harde werk en gereelde betalings jou vreugde gee. Mag jy die vrugte pluk van kinders wat, ten spyte van omstandighede, geliefd voel en wéét hoe om liefde uit te deel. Mag jou harde werk jou beloon en jou mooi versorger-hart warm klop. In dieselfde asem dink ek ook aan ouers wat graag meer wil betaal maar nie kan nie… Sterkte!

Vir die wanbetalers (ek praat van ouers wat kan, maar nalaat): Wat kan ek sê? Hmmm… Op hierdie oomblik dink ek aan Dante se Inferno – die nege sirkels van hel. Die sewende sirkel huisves geweldenaars. En om in versuim te wees met die betaling van onderhoud is immers geweld. Die Suid-Afrikaanse Wet op Gesinsgeweld definieer gesinsgeweld ook as, onder andere, ekonomiese mishandeling. Ekonomiese mishandeling sluit die onredelike weerhouding van ekonomiese en finansiële steun ten opsigte van ’n afhanklike in.

Wat ek nou gaan skryf is dalk nie vir die flouhartiges nie… In hierdie sewende sirkel van hel word die geweldenaars in ’n rivier van kokende bloed gedompel.

En daarmee volstaan ek.

As daar iemand is wat wil hê ek moet ’n blog skryf oor die vordering van onderhoud, vra gerus. As jy net wil raad hê, vra ook. Daar sal vele ander wees wat met dieselfde vrae worstel. Ek doen dit met liefde en so goed ek kan. Die paar jare as prokureur het my darem met kennis oor die onderwerp gelaat.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button