Hmmm… die foto sê alles
’n Australiese ma van ’n tweeling het opslae gemaak toe sy ’n foto geplaas het van antwoorde op vrae wat mense haar oor haar tweeling vra. Skakels na Annie Nolan se blog is nou oral op Facebook te sien – dit is veral gewild onder die ma’s van tweelinge...

’n Australiese ma van ’n tweeling het opslae gemaak toe sy ’n foto geplaas het van antwoorde op vrae wat mense haar oor haar tweeling vra. Skakels na Annie Nolan se blog is nou oral op Facebook te sien – dit is veral gewild onder die ma’s van tweelinge… (Ja, ek het die res van die blog gelees wat verduidelik dat sy dit eintlik tong in die kies bedoel het.) Maar dit is nie die enigste plasing van hierdie aard nie. ’n Ander blogger skryf oor “12 Stupid questions people ask twins, triplets and other multiples.” En die Mirror het in April 2015 ’n artikel getiteld “Ten annoying questions twins and their parents always get asked” gepubliseer.
Dit is nie waar dit stop nie. Honderde artikels op die internet sluit die volgende titels in:
“10 Things you should never say to an estate agent,” “Amy Schumer’s 10 things not to say to a girl after sex,” “The twelve things you should never, ever say to teachers,” “Things not to say to someone with Inflammatory Bowel Disease,” “6 Things you shouldn’t say to someone who is fasting for Ramadan,” “5 Things not to say to an Irish person on St. Patrick’s Day,” “20 Things you should never say to a graphic designer,” 6 Things not to say to an ex-pat,” “Things not to say to a trans-person,” “13 Things not to say to your bridesmaid” ad infinitum.
En ons wonder waarom maak mense nie meer met mekaar bemoeienis nie. As ek nou namens myself moet praat, sou ek sê dit is omdat ek net nie meer lus is om gedurigdeur op eiers te loop nie. Platoniese vriendskappe waar jy nie eintlik in my belangstel nie en vice versa, is baie minder ingewikkeld en definitief veiliger.
Ek dink dit is eenvoudiger om na ’n verlate plaas iewers in die Noord-Transvaalse Bosveld te trek. Waar Musina die naaste dorp met ’n behoorlike supermark is en daar geen mense met “issues” in sig is nie.
Die ander opsie is om my eie blog te begin waar ek artikels met die volgende titels plaas: “Wat om nie vir ’n uitgewaste tuisbly-ma te sê nie,” “10 Skelname wat jy nooit ooit ’n liberale Afrikaanssprekende mag noem nie,” “6 Sêgoed om te vermy as jy met ’n ouer van drie-en-’n-half-of-meer-kinders-van-verskillende-ouderdomme praat,” “Agthonderd twee en dertig dinge om nie vir ’n vrou te sê as die kos flop nie,” “ Drie sêgoed wat jou dood kan beteken as jy kommentaar lewer op ’n vrou se haarkleur” …
Alhoewel, noudat ek mooi daaroor dink: ek kan my op ’n plaas gaan afsonder én ’n blog begin!

