BlogsOpinion

Donderdag – ‘die blond’

Bokskleur. Kan 'n mens jou hare daarmee blond kleur?

Het blondines meer pret?

Só het ek gelyk toe ek vir die miljoenste keer wonder of blondines se lewens prettiger is as brunette s’n:

Voor.
Voor.

Ek het hierdie vraag in die gemak van my huis probeer beantwoord.  Hiermee my dagboekinskrywings wat my kapselreis van die afgelope week saamvat.

Maandag:

Het blondines meer pret?

Ek sal nie weet nie, maar ek stel my haredos beskikbaar vir enigeen wat ‘n voëlverskrikker nodig het.

Voëlverskrikker?
Voëlverskrikker?

Die uwe het haar hare tuis gekleur.  Met ‘n boks kleursel.  Die beoogde kleur was blond, maar die eindproduk is giggelgeel.  Ek het wel besluit dat ek so gaan rondloop totdat ek geld het om haarkapper toe te gaan.  Ek sien dit as my plig – ‘n tipe guns wat ek aan die samelewing bewys.

Deurdat ek so rondloop, is ek ‘n wandelende waarskuwing aan ander: moenie jou hare tuis probeer blond kleur nie.

Dis darem net vyf dae tot betaaldag.

Blond
Ek en die boks – die platinumblondine het haarself in ‘n gemmerkat verander en op my kop gaan lê.

Dinsdag:

Dalk moet ek ‘n les hieruit leer.

Eckhart Tolle bespreek kwessies wat ‘n mens pla in sy boek, The Power of Now.  Hy praat oor “issues.”  Lastighede.  Iets soos ‘n haarkleur wat nie uitwerk nie.  Die kwessie kan meer of minder ernstig wees. My kerriekapsel is so ‘n kwessie – dit pla my.

Wanneer daar ‘n kwessie is wat jou pla, stel hy voor dat jy bewustelik daarop let dat dit jou pla.  Hierdie blote bewuswording skep, volgens Tolle, ‘n soort afstand tussen jou en die probleem.  In plaas van dat die probleem op ‘n manier deel is van jou, skep die bewuswording van die feit dat dit jou pla ‘n ruimte tussen jou en die probleem – jy en die kwessie is nie meer “een” nie.

Sodra jy op hierdie bewuswording let, kan jy ‘n keuse maak:

  1. Ek gaan die situasie oordeel.
  2. Ek gaan bewustelik besluit om die situasie te laat begaan.

Wat bedoel ek hiermee?

Om die situasie te oordeel, beteken dat ek die situasie toelaat om aan my te knaag.  Ek dink vir minute op ‘n slag daaraan en bepeins dit.  Dit irriteer my bewustelik en ek laat dit toe.  In my giggelgeel-haredos geval sal dit beteken dat ek verby elke spieël loop, vir myself kyk en dink:“Ek lyk soos Kerrie!  Nee, ek lyk soos Borrie!  O Griet, ek lyk soos die Geel Heks!” Dis mos nou laf.

Om die situasie te laat begaan, beteken dat ek besef het dat betaaldag vier dae weg is.  Ek weet dat Mbombela fantastiese haarkappers het wat my boskaas kan beredder.  Ek gaan vir vier dae die stad se “oppas sê die geel lig” wees en dis oraait.  Ek aanvaar die situasie asof ek dit gekies het.  Want as ek eerlik is met myself, het ek eintlik maar die situasie gekies toe ek daai stoute pakkie haarkleur van die rak afgehaal het.

Dankie, Oom Eckart.

Wie sê dis ‘n slegte situasie?  Dalk ontmoet ek my trouman binne die volgende vier dae en dalk het hy ‘n ding vir giggelgeel.

Woensdag:

My kollegas spot my.

Die internet het gesê dat ek my hare met Fanta Grape moet was om die gelerigheid uit my hare te kry.  Dit was nie ‘n goeie idee nie – my kopvel is taai en die reuk van Fanta Grape maak my net lus vir lekkergoed.

Kopvel + Fanta Grape = Slegte idee.
Kopvel + Fanta Grape = Slegte idee.

Donderdag:

Die apteekster het gesukkel om haar lag weg te steek toe ek hand in die hare daar opdaag.  “Het julle nie ‘n kitsoplossing waarmee ek hierdie hare kan regruk nie?” het ek moedeloos gevra.  Sy het ‘n botteltjie Gentian Violet te voorskyn gebring.  Dit het R10 gekos en sou, volgens haar, al my probleme oplos.

 

Gentian Violet - R10!
Gentian Violet – R10!

“Gooi ‘n paar druppels hiervan in jou sjampoe en opknapper en siedaar!” het sy voorspel.

Siedaar - Donderdag, dis blond!
Siedaar – Donderdag, dis blond!

Ek is tevrede.  Die noodafspraak by die haarkapper kan maar wag.  Ek sien haar oor ses weke.  Ja, ja ek weet.  ‘n Mens sukkel nie met jou haarkapper nie, ek gaan maar solank moet dink aan ‘n verduideliking vir die drastiese verandering.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button