BlogsOpinion

Donderdag – wil jy regtig die somer nader wens?

Die wintervetjies het hulleself tuisgemaak op my lyf. Ek dink twee keer voor ek wens vir somer.

Daar is tweespalt in my binneste.

Winter-ek en Somer-ek baklei.  Op hierdie stadium het Winter-ek die gewigsvoordeel.

Dit bekommer my, omdat die seisoene besig is om te verander. Somer-ek gaan een of ander tyd haar verskyning moet maak.

Hierdie tussenin-seisoen wat nie kan besluit of hy winter if lente wil wees nie, veroorsaak chaos en verwarring.  Ons almal kla daaroor.  Wanneer jy aantrek, het jy beperkte opsies wat die weer akkommodeer.

‘n Truitjie bo-oor ‘n langmouhemp kan darem iewers deur die dag uitgetrek word, maar dan loop jy met die ellendige ding in jou hand rond.  Bind hom maar om jou middel, dan is jy die toonbeeld van 1980’s-hip.  

Die probleem kom as die trui nie knope het nie.  Wanneer jy hom uittrek, is daar ‘n mini Eskom wat homself op jou kop tuismaak.  (Vir hierdie vergelyking om sy doel te dien, verbeel jou dat Eskom suksesvol elektrisiteit genereer.)

 

Dis wat gebeur wanneer jy jou trui oor jou kop trek. (Foto: wikispaces.com)
Dis wat gebeur wanneer jy jou trui oor jou kop trek.   (Foto: wikispaces.com)

Dan wip jy jou vir die situasie en smyt al jou wintersklere in ‘n trommel.  Jou ouma het gesê dat motbolle en engelse sout motte uit die weggepakte klere hou.  Jy strooi engelse sout dat dit klap en maak die trommel toe.  ‘n Ontydige kouefront daag ‘n week later op en jy moet omtrent ‘n dag se verlof insit om jou wintersklere weer te was en stryk.  Alles ruik soos motbolle en engelse sout.

Die kouefront kom en gaan en jy dra maar weer die langmouhempie, want jy’s nie lus vir koud kry nie.  Om 12:00 word dit te warm en jy spuit maar nog anti-sweetmiddel onder jou arms.

Spuit daai anti-perspirant.  Jy wil nie "daardie ou" wees nie.
Spuit daai anti-perspirant. Jy wil nie “daardie ou” wees nie.

Ek kla nou so oor die winter wat nie sy ry wil kry nie, maar wanneer ek dink aan die somersklere in my kas en die somerlyfie waarom hulle gepas het, pak ‘n bekommernis my.  Ek weet hulle pas my nie meer nie, want ek het my kieste hierdie winter gestop met ‘n ongekende hoeveelheid eetgoed.  Nogtans moet ek my maar in die klere inwurm, want ek gaan nie geld uitgee op ‘n klerekas vol “vet-klere” nie.

Dis ‘n proses hierdie.  Denimbroeke se boonste knope kom met moeite toe en die ellendige goed se ritse by afgly.  Dit gebeur omdat daar te veel heup en maag vir die hoeveelheid broek is.

‘n Tydelike oplossing bestaan: ‘n mens ryg ‘n sleutelring deur die rits, trek jou asem op en dwing die gulp en die knoop toe.  Moet onder geen omstandighede uitasem nie, netnou skeur jou broek.

So maak mens.
So maak mens.

Hemde trek alewig op en rokke pas nie meer soos wat hulle voorheen gepas het nie.  Sommige van ons skaf dan maar ‘n ‘Trim & Lift’ aan.  Hierdie spanbroeke kan vir groot verleentheid sorg wanneer hulle uitsteek.  Dit het met my gebeur toe ek voor ‘n klomp mense geval het – lees meer hier.

Dan praat ons nog nie van die swemklere waarin jy voor ander mense op die strand moet verskyn nie.

A nee a!
A nee a!

My pa se goue reël het betrekking: “Onthou dat jy in jou baaipak ‘n invloed het op die mense om jou – hulle moet daarna kyk.  Jy wil nie die vrot kol in iemand se see-uitsig wees nie.”

Dalk moet ek eerder in ‘n duikpak belê.

'n Duikpak op die strand lyk na die ideale oplossing.
‘n Duikpak op die strand lyk na die ideale oplossing.  Foto: wiggle.co.uk

Ek sal moet besgee en begin oefen om die somer te vier, anders is ‘n vakansie by die huis my voorland vir Desember.

As ek nou mooi dink en onthou dat ek brandarm is, besef ek dat Jan Tuisbly se karretjie in elk geval my vervoermiddel gaan wees wanneer almal see toe gaan.

Dan verslank ek maar ter wille van die spieël wat tog so geniepsig kan wees aan die einde van die winter.

 

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button