BlogsOpinion

Dis Donderdag – Hoe dink jy oor geluk?

Het jy 'n vooropgestelde idee van geluk? Jaag jy dit na? Gaan dit jou teleur stel?

Ek het hierdie stuk ‘n tyd gelede geskryf en gewonder of ek dit moet publiseer.

Hier gaan hy:

Daar was eenmaal ‘n jong meisie wat die wêreld so gekyk het en besluit het dat sy haar eie geluk sou kweek – kom wat wil!

Sy het gesien dat geld geluk baie aanhelp, maar dat genoeg geld eenvoudig nie genoeg is nie.  Slegs ‘n buitensporige hoeveelheid geld sou deug.  Sy het ook gesien dat vrouens wat na 35 op hulle louere kan rus omdat manlief een of ander sukseslëer uitgeklim het, lyk asof hulle die lewe geniet.  Iemand het haar gewaarsku om onder geen omstandighede betrokke te raak by iemand wat lyk asof hy dalk ‘n swakplek in sy emosionele samestelling mag hê nie.

Sy het ‘n “MY MAN” lysie beskryf en dit in haar Bybel gebêre:

1.  Hy is langer as ek.

2.  Ek is aantreklik – ek wil nie lelike kinders hê nie.

3.  Hy is slimmer as ek en kan intelligente gesprekke voer met ‘n glasie uitsoek-wyn in die hand.

4.  Hy moet baie geld maak – ten minste ‘n dokter (nie sommer ‘n algemene praktisyn nie) of ‘n aktuaris.

5.   Ryk voorgeslagte – NB.

6.  Hy mag geen emosionele bagasie hê nie.  Ek is niemand se kruk nie.

Om vir so ‘n man te kwalifiseer, het sy vooraf besluit dat sy ‘n sekere rokgrootte moes wees.  Sy het ure in die gimnasium spandeer en elke happie wat by haar mond in is, getel.  Sy het besluit dat haar haarkleur nie goed genoeg was nie en dit elke ses weke laat bleik.  Sy het haar gesig beplak met grimering en is op 32 vir haar eerste botox spuit.

Sy het haar man gekry en hom oortuig om verlief te raak op haar.

Vandag sit sy met hom.  Nie een van die twee is al 45 nie en hy dryf haar teen die mure uit.  Hy is ‘n selfvoldane bullebak wat wéét dat hy slimmer is as sy.  Hy het die Barbiepop waarin sy haarself verander het gekoop en betaal haar elke maand genoeg geld dat sy in haar hoek moet sit en haar mond moet hou.  Hy voer gesprekke met homself wanneer hy twee bottels van sy uitsoek-wyn gedrink het op ‘n weeksaand.  Haar skoonouers glo dat sy met hom getrou het vir sy geld en behandel haar dienooreenkomstig.

Destieteenstaande haar wense, is die twee buite gemeenskap van goedere getroud.  Sonder die aanwas.

Of die man emosionele bagasie het, weet sy nie.  Sy weet nie eers of daar emosie in hom steek nie.

Maar die wêreld beny haar.  En sy glimlag en waai en maak asof haar lewe benydenswaardig is.  Dít terwyl sy één aardse lewe het, terwyl sy geen dag oor sal hê nie en elke aand gaan slaap met die wete dat sy eensaam is.

Haar lewe dra ons sameleweing se goedkeuring weg.

Dan is daar die verhouding wat onlangs aan my toegeskryf is.  Ja, ek praat hierdie week uit die huis uit.

Ek het ‘n wonderlike man ontmoet wat twintig jaar ouer is as ek.

Ons het baie goeie vriende geword.  Soveelso dat ons ‘n paar keer saam gaan koffie drink het, die museum besoek het en vir ‘n dag dieretuin toe is.

Sonder dat ek ‘n lysie gemaak het of wou maak van sy eienskappe, kan ek sommerso opnoem dat hy ‘n kind van God is, dat hy dink voor hy praat, dat hy intelligent is, dat hy my ‘n standpunt gun, maar ook met my kan redeneer.  Hy leef gesond en lag graag.  Ek weet nie wat sy bankbalans is nie, maar hy werk wel mooi met sy geld.  Hy respekteer my.

Alhoewel nie ek of hy enige verhoudingstatus bekendgemaak het nie, het mense se reaksie op ons vriendskap my geskok.

Ons vriendskap is as ‘n sonde afgemaak.  Gerugte dat ons ‘n “affair” het, het onmiddelik vlamgevat.  (Let wel: hy is ongetroud.)  Besorgde vriende en familie het my bederf met lang lyste en feite soos:

 25 Reasons why girls shouldn’t date older men – kliek

– ‘‘n Ouer man sal jou einde beteken!’

– ‘Hy gaan voor jou sterf!’ (Asof ek dit nie self kon bereken nie.)

– ‘Julle verskil 20 jaar, die generasiegaping kan probleme veroorsaak.’ (Duh, ‘n nuwe generasie kom elke 20 jaar tot stand.)

You will ALWAYS regret falling for an older man – kliek

– ‘Hy het ‘n kind!’ (Ek kan sien.  Ek ken hom.  Weereens: duh.)

– ‘Hy was al getroud.’ (Weer eens: ek ken hom beter as jy.  Ek weet dit.)

Dít alles sonder dat ek in ‘n verhouding is met die man.  Ons is vriende en geniet mekaar se geselskap.  Nou vra ek jou: as die wêreld die arme vrou hierbo se prentjie bemin, maar die prentjie wat hulle van my en hom geskets het, as verkeerd bestempel, wat gaan van ons word?

Het jy ‘n vooropgestelde idee van geluk?  Jaag jy dit na en gaan dit jou teleur stel?

 

 

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button