Hoekom kleur vroumense hulle hare blond?
Die Yahoo-answers webblad het ‘n rits antwoorde op hierdie vraag, waarvan die beste een uitgekies is. Dit verskyn bo-aan hierdie vraag se lys antwoorde.
“Hulle doen dit om twee redes.
1. Om in te pas by die voorskrifte wat die media vir vroue daargestel het.
2. Wanneer ‘n meisie se hare donkerblond is, kan sy netsowel ‘n brunette wees. Die media is op soek na meisies met ‘n behoorlike kop blonde hare wat strandgereed is. Meisies glo dat mans van blondines hou.”
Die gevolg hiervan is dat rooikoppe, brunette en selfs dames met raafswart hare Gouelokkies speel.

(Foto: harpersbazaar.com)


(Foto: Pinterest)
Waar werklikheidsterre en gister se silwerdoeksterre vir party iets om na te streef, droom ander daarna om soos Hugh Hefner se prikkelpoppies te lyk.

(Foto: Playboy, soos gedeel op Pinterest)
‘n Ligter kop laat mense twee keer kyk. Ek kan eerstehands daarvan getuig, omdat ek onlangs self vir ‘n maand of wat blond was. My arme hare is deur ‘n Jik-tipe hel en herstel steeds.
Lees hier meer – Donderdag die blond.
Die haarkleur wat ná twee bokse bleikmiddel te voorskyn gekom het, was ‘n vreemde een. Dit was ‘n mengsel. Soos die kleur wat uitkom wanneer jy ‘n goedkoop eetplek se mayonnaise, mostert en tamatiesous meng.
Ek gooi toe maar nog bleikmiddel op my hare.
My opsigtelik gebleikte hare en donker wenkbroue het nie by mekaar gepas nie.
Nogtans het mans nog nooit met sóveel oorgawe twee keer na my gekyk nie. Soveelso dat ek dit kon agterkom. Ek is uitgevra op afsprake, wat selde onder normale (brunette) omstandighede gebeur. Twee vreemdelinge het dit goed gevind om my per Facebook in te lig dat ek vir hulle pragtig lyk.
Ek het meer pret gehad. Die oormaat aandag en goedkeuring in die kyke van vreemdelinge was gaaf. Dis asof hulle outomaties na jou kant toe wil beweeg, al agter die ligter kop aan. Ek het meer selfvertroue gehad en dáárom lekkerder partytjie gehou wanneer ek uitgegaan het.
Maar ek het ongemaklik gevoel onder die gelerige grasdakkie wat daagliks droeër geword het. My hare het gebreek en ek moes met pers sjampoe was om die gelerige skynsel uit my hare te hou.
Die laaste strooi was toe die pers sjampoe die bad gevlek het. Dit was ‘n reuse gesukkel om die vlekke te verwyder – en dít sonder om die emalje bad te krap!
Toe die bad uiteindeloos vlekkeloos was, het ek dadelik in my kar geklim en die eerste boks bruin haarkleur waarop ek my hande kon lê, gekoop.
Ek voel nou weer tuis onder my bruin boskasie. En nee, ek word nie meer so baie uitgevra nie. Daar daag nie meer komplimentêre drankies voor my op wanneer ek uitgaan nie en geen geheime bewonderaar het my sedertdien gekontak nie.
Blondines het meer pret, maar ek is tevrede met my eie haarkleur en die rustigheid wat daarmee gepaardgaan.
