Ek dink alle vroue kan in een woord opgesom word: ‘kompleks‘.
Dit beteken dat ons nooit geïsoleerd staan nie, maar deel is van’n sisteem waar daar voordurend ‘n dinamiese interaksie tussen alle komponente van die sisteem is.
Die wetenskaplikes verduidelik dat, (om sake nog ingewikkelder te maak!), komplekse verskynsels tegelykertyd oorsaak en gevolg van hulself kan wees. Dit maak dit dus moeilik om die gedrag of uitkomste van sulke komplekse verskynsels soos ons te voorspel of te bereken.
Vir my is kompleksiteit deel van eenvoud. Dit is deel van die natuur en dit is deel van my. My pa is Engels en my ma is Afrikaans. Dit maak my seker die draadsitter van ons groepie ruiters, as ons so saam met die spoke van die verlede, aan beide kante, Brit en Boer, die lang pad gaan aandurf.
Ek is ‘n introvert maar kan uit my kassie uit klim op ‘n goeie dag en sien uit na die rit.
Hierdie jaar is ek nie weer die ondersteuner nie, maar een van die ruiters. Ek en my Arabierperd, Inka het al ‘n paar uithouritte gedoen, maar ek weet dat die heeltemal iets anders is – iets groters. Ons doen dit nie net vir onsself nie. Ook nie net om onsself te bewys nie. Hierdie is om terug te gee ook. Vir ons herkoms.
Inka is my merrie – 13 jaar oud met sagte oë en ‘n breë bors. Ek het Inka nege jaar gelede as my 21ste verjaardag geskenk gekry. Ons albei was maar onkundig maar het oor die jare baie by mekaar geleer en saam gegroei. Sy het ‘n sagte persoonlikheid en is baie betroubaar. Sy kyk altyd waar sy haar voete sit en selfs my klein Mia-kind kon haar die werf rond laat loop met die halter toe sy maar een jaar oud was.
Inka is ‘n regte moedertjie. In al die jare het sy my soos ‘n stuk goud op haar rug opgepas. Sy het die wêreld se geduld. Sy is nie die vinnigste perd nie maar aan haar uithouvermoë is daar nie einde nie. Sy is nie net my beste nie maar ook my enigste. Daarom pas ek haar op soos sy nog al die jare vir my gedoen het.
Interressante brokkie omtrent Fiona
– Juliette Whelpton
Die 2012 Herdenkingsrit se ondersteuningspan het uit presies EEN mens bestaan: Fiona-Lee. Hierdie beeldskone, fyn jong vrou het die volle verantwoordelikheid op haar skouertjies gedra.
Dit alles met haar en Theunis se 2 jarige klein Mia Muis, wat teen hierdie tyd al vlot perdtaal kan praat!
Fiona het al die einskappe getoon van die volksmoeder van ouds: innerlike krag, trots, dapperheid en geduld.
Hierdie jaar is Fiona een van die ruiters en daar is ‘n volle span wat haar en die ander ruiters gaan ondersteun!


