Liewe Tandmuis
Dankie dat jy my tande kom haal het en vir my tweerande gegee het in ruil daarvoor. Dankie ook vir die twee vyfrande in ruil vir my buitengewone groot voortandjies wat vervang is met lewensgrote “Beechies.”
NS Ek hoop jy het my trouman se tande mooi weggesit, want ek sal met ‘n mond vol tande sit as hy een van hulle vir my aanbied.
Waar kom ek nou hieraan?
My skrywe het sy oorsprong in die drogbeeld wat my vanoggend op sosiale media begroet het.
Ek wou nie daarop kliek nie, maar ek het.
Dis sowaar ‘n verloofring.
Met ‘n tand in plaas van ‘n diamant.
“Sies!” het ek uitgeroep.
“Gaan sy dit aan haar vinger sit?” het ek hardop gewonder en nog ‘n keer gekliek.
Sy sal hom dalk langtand aan haar ringvinger sit, het ek gedink.
Hy was darem al oor die boonste lit.
Die wit naellak was nie ‘n goeie idee nie. Nou kan ‘n mens sien hoe… off-white… die tand is.
Dis sy verstandtand.
A nee a! Ek sou ten minste op ‘n voortand aangedring het!

Dis tien ure later en ek gril my steeds dood.
Hulle het altyd in my hoërskooldae gespot met jonges wat sit en vry op die skoolterrein. “Jannie, het jy Sannie se kiestande verken?” sou ‘n ondeunde meneer soms ná tweede pouse vra.
Ek dink nie eers hy sou ooit dink dat Jannie vir Sannie ‘n kiestand sou gee nie.
Wie wil oor die tou trap as jy oor die tandeflos kan trap?
Die ontvanger van die ring het baie om aan te kou en te herkou. Trou is ‘n ernstige gedoente.
Boredpanda.com sê dat sy baie van die ring hou.
Troureëlings lê nou vir die tweetjies voor. Hiervoor het ‘n mens glo hare op jou tande nodig, maar ek glo hulle is slaggereed om mekaar die regtertand te gee.
Wat wil ‘n mens nou meer hê?
Vir só ‘n huwelik sal baie hand en tand baklei.
Ek probeer ophou met die tand grappies, maar ek kan nie.
Dis net een te veel vir my.
Lees Donderdag steek die draak met Dokters in tandem met hierdie insetsel.


