Die dorpe – Fochville: Danie Theron Monument, 30 November-1 Desember
Danie Theron het byna daarin geslaag om die hele groep van sewe om te bring, maar hy kon nie die Britse veldkanonne ontsnap wat op hom losgebrand het nie, en hy het op ‘n nabygeleë koppie gesterf. En dit is hier waar ons ruiters met hul perde tussen 30 November en 1 Desember gaan hulde bring aan een van die dapperste manne in ons geskiedenis.

Verkenner te perd & te fiets: Danie Theron – Volgens Lord Roberts:
“DIE HARDSTE DORING IN DIE VLEES VAN DIE BRITSE OPMARS.“
Danie Theron het in 1891 in Krugersdorp gewoon waar hy as prokureur gepraktiseer het. Met die uitbreek van die oorlog, veg hy in Natal. Hier stig hy ‘n fietsryerskorps genaamd die Wielrijderskorps. Die dapper manne van hierdie korps neem boodskappe reg oor die land – per fiets. Hulle het gereken (en dit bewys!) dat hul vinniger en verder met hul fieste kan ry as per perd.
So ‘n tog pak hy aan op 22 Februarie 1900 in genl. Christiaan de Wet se leer. By Paardeberg was genl. Cronjé met meer as 4000 burgers deur lord Roberts se magte vasgekeer. On te kan ontsnap het Cronjé genl. De Wet se hulp nodig gehad. De Wet was van oordeel dat Cronjé na die suidelike oewer van die Modderrivier moes deurgaan en van daar met behulp van dekking deur De Wet se magte ‘n pad oopbreek na die ooste. Op een of ander skynbaar onmoontlik manier moes De Wet hierdie boodskap by Cronjé kry. Daar was geen heliografiese of telegrafiese verbinding nie, net n stewig geslote Britse kordon tussen hulle.
Danie Theron se reputasie van dapperheid en onverskrokkenheid het hom waarskynlik vooruitgegaan. Dit is daarom nie vreemd dat De Wet besluit het om hom te nader met die versoek om die rapport mondelings aan Cronjé deur te neem nie. Sonder huiwering kom Theron se antwoord: “Ja, Generaal, ek sal gaan!” Ten einde die donker as bondgenoot te gebruik en nog die omgewing te verken, het Theron reeds die middag van 24 Februarie 1900 De Wet se laer per fiets verlaat. Twee van sy rapportgangers vergesel hom ‘n ent, waarna Danie afskeid neem en alleen te voet verder gaan.
Teen donker kon hy die rye Britse kampvure voor hom sien wat die terrein tussen die breë linies verlig. Voetjie vir voetjie vorder Theron, totdat hy naderhand vlak teen die eerste Britse wagposte is. Die eerste linies bied geen probleme nie, maar namate hy al dieper die vyandelike gebied binnedring, is die wagposte al nader aan mekaar.
Danie het later aan generaal De Wet vertel: “My hande en knieë was rooi van die blare, want dit was stukkend gekrap van die dorings en skerp klippe, waardeur ek honderde tree ver moes kruip. Ek het ‘n rukkie tussen die groot klippe gaan lê, om te rus en te oordink wat ek sou doen, want ek was toe só na aan die Engelse brandwagte, dat ek hulle duidelik op en neer kon sien loop, dwarsoor die koers wat ek moes gaan.”
Geweer oor die skouer marsjeer die wagte na mekaar toe, maak ‘n regsomkeer waar hulle ontmoet, en loop dan weer in teenoorgestelde rigtings, tot waar hulle weer die volgende wagte aan weerskante tref, en so duur dit voort.
Theron het sy gaping gesien. Toe twee wagte mekaar die rug keer, spring hy vorentoe en sis die een toe: “Hey Jack, don’t move, keep quiet or I’ll shoot you dead.”
Die wag aarsel vir ‘n oomblik en draai na die indringer. Maar toe hy sien dat die Boer sy rewolwer op hom rig en hy nog ‘n bevel kry om aan te stap asof niks gebeur het nie, gehoorsaam hy vinnig. Soos blits glip Danie Theron deur in die rigting van die beleërde Boerelaer.
In die wal van die Modderrivier tref Theron Cronjé se laer in haglike omstandighede aan. n Onhoudbare stank hang oor die laer, verwek deur die ontbindende karkasse van perde en trekvee wat deur die vyandelike bomme gedood is. Die oorblywende sowat honderd perde is uitgeput en glad nie rybaar nie.
Onder hierdie omstandighede heers ‘n gees van volslae moedeloosheid oor die burgers. Theron het die boodskap van De Wet aan Cronjé afgelewer, maar die offisiere het nie kans gesien om ná al die ontberings deur ‘n afkomende rivier te gaan en self ‘n pad deur die vyand te slaan nie.
Nadat Danie deur die dag ‘n klein ruskansie gekry het, pak Theron daardie aand die terugtog deur die Britse linies aan en kom die volgende oggend in De Wet se laer aan.
Sy broek is aan flarde en sy knieë rooi van die bloed waar die klippe en bossies en dorings die vel afgeskaaf het. Theron se optrede was volgens De Wet ongeëwenaard en vir hom was hy die knapste rapportganger in die geledere van die burgerkrygsmagte.
Na hierdie gebeure is, vir boodskappe wat oor kort afstande geneem moes word, eerder van perde gebruik gemaak. Danie stig dan ook ‘n verkennerskorps te perd – Die Theron Verkennerskorps.
Vroeg die môre van die 5de September 1900, ry hy op sy spoggerige groot bruin perd, wat ‘n spierwit linkervoorpoot het, na Gatsrand (Fochville) op ‘n verkenningsending. Onverwags ontstaan daar ‘n skermutseling wanneer Danie en sy perd hulle vas loop in ‘n groep van sewe Britse soldate.
Hy het byna daarin geslaag om die hele groep van sewe om te bring, maar hy kon nie die Britse veldkanonne ontsnap wat op hom losgebrand het nie, en hy het op ‘n nabygeleë koppie gesterf.
Dit is op hierdie plek waar die monument 50 jaar na sy dood opgerig is. En dit is hier waar ons ruiters met hul perde tussen 30 November en 1 Desember 2105 gaan hulde bring aan een van die dapperste manne in ons geskiedenis.
