
Dis Donderdag en die bank is toe nie beroof nie.

Ek dink nie sommer uit die bloute aan dinge soos bankrowe op ‘n Donderdag nie.
Toe Jan Publiek egter 14:00 van Riverside af stad toe ry – via Mataffin – het hierdie toneel hom begroet:

Jan Publiek het besluit dat só ‘n toneel bankrowers móét wegsteek.
Dié storie het teen ‘n Dorpstraat-na-Kerkstraat spoed versprei. ‘n Besoek aan die toneel het bevestig dat geen bank beroof is nie.
Die polisieman op die toneel het net sy oë gerol toe ek vra waar die bankbandiete skuil.
“‘n Vrou se beursie is wel gesteel,” het hy bevestig.
Terug by die kantoor het my telefoon skril gelui. ‘n Histeriese vrou het my na haar huis toe ontbied. Sy het vreeslik gesnik en gedreig om haarself aan ‘n boom vas te bind. Sy wou sodoende protes aanteken teen die afkap van die boom.
“Mevrou,” het ek verduidelik. “Ek is tans gebonde aan die kantoor. Ek sal eers om 15:00 op die vroegste beskikbaar wees. Sal u uself dán aan die boom kan vasbind en my kontak sodat ek ‘n foto kan neem?”
Dis nou 17:00 en ek het vertroulik verneem dat beide haar voete steeds op die grond staan.
Mense sê altyd dat daar ‘n vuurtjie brand waar daar ‘n rokie trek. Ervaring het my geleer om rokies met ‘n knippie sout in te asem.
Die pers is dalk vir sy voortbestaan van nuus afhanklik, maar die publiek floreer op geselsies maak in die oortreffende trap.
Die magdom karre van vandag om die “rooftoneel”saamgrdrom het, was ‘n klinkklare bewys daarvan dat mense nou maar eenmaal nuuskierige agies is.
En dit nogal 14:00 op ‘n werksdag!


