BlogsOpinion

Die dorpe – Vredefort: Opedag – 4 Desember

Boermeel is vir die Boerevolk nie ‘n kleinigheid nie. Dit is sy stapelvoedsel. Die berig wat aan generaal De Wet gebring word dat die Britte al die waens onderskep het, is soos om ‘n rooi doek voor ‘n Spaanse bul te waai. Nou is daar net een pad: “Ons moet ons boermeel gaan terugvat!“.

DIE SLAG VAN DIE MEELWAENS

As jy vanuit ‘n ruimtetuig na die aarde kyk, sal jy aan die suidelike halfrond, in die Afrika kontinent, ‘n enorme groot krater sien. Meer as 2 biljoen jaar gelede het ‘n meteoriet die aarde op daardie plek getref. Die grootse impakt in die geskiedenis; verklaar tot ‘n wêrelderfenisgebied. Heel in die middel van die gebied is die dorp Vredefort.

Indien jy in ‘n tydmasjien vanuit die ruimtetuig terug gestuur word in tyd na die aarde – daar na Vredefort, die hart van die koepel – is dit wat jy kan verwag:
24 Julie 1900.
‘n Handjievol Suid-Afrikaners veg teen ‘n oormag soldate. Die 50 000 Boere tref egter die 500 000 Britte met die impakt van ‘n meteoriet. Lord Roberts sit al weer met sy hande in sy hare. Desperaat. “De Wet is gone!” Hy en sy strydmag van 3 700 soldate sukkel al maande om die skim en sy spookperd, Fleur, vas te trek: die “jag“ van Christiaan de Wet.

Tussen hierdie kat en muis speletjies wat De Wet met die Britte speel, sorg hy dat sy burgers nie op ‘n leë maag veg nie. Hy stuur vyf waens met koring na Vredefort om gemeel te word. Daar is nie tyd om te speel nie en MacKensie, die maler werk fluks, reg deur die nag. Teen sonop staan die ossewaens vol gelaai in ‘n netjiese ry gereed vir die pad na De Wet en sy manne. Maar die waens bereik heel laas nie hul bestemming nie. 18 Boere met hul kosbare vragte word gevangene geneem deur majoor Cookson en sy afdeling van „Kitchener’s Horse“.

Boermeel is vir die Boerevolk nie ‘n kleinigheid nie. Dit is sy stapelvoedsel. Die berig wat aan generaal De Wet gebring word dat die Britte al die waens onderskep het, is soos om ‘n rooi doek voor ‘n Spaanse bul te waai. Nou is daar net een pad: “Ons moet ons boermeel gaan terugvat!“. Met 400 ruiters jaag hy in die rigting van die pad Vredefort na die Vaalrivier. De Wet en sy manne laat hul perde onder bewaking in ‘n leegte. Te voet beweeg hul verder en ontmoet die Britte teen ‘n bult. Die geveg is so erg as wat jy jouself kan indink! Die niksvermoedende Britte word oorweldig met generaal De Wet self aan die voorpunt.
Daardie aand smul die Boere te lekker aan varsgebakte *maagbomme.

Op 3 Desember ry ons ruiters op dieselfde pad. Dit is ‘n opedag en die publiek word uitgenooi om saam te ry. Wees net op die uitkyk vir „Kitchener’s Horse“!

Lees meer oor die Herdenkingsrit hier.

* Die burgers het koekies gemaak deur meel in ’n balletjie te rol en dit in gekookte vet te kook. Dit het bekend gestaan as “maagbomme“.

(Bronne: Generaal de Wet in die Vredefortkoepel, V E d’Assonville;
Helde met Hoewe, Fleur, J Whelpton

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button