Die dorpe – Brandfort: 13 Desember
Die beroemde skilder Vincent Van Gogh se broer, Cor, is in hierdie dorpie begrawe. Tydens die Anglo-Boereoorlog was Cor beseer terwyl hy aan die Boere se kant geveg het. Hy is na Brandfort se hospitaal gebring, en het daar, soos sy broer Vincent, selfmoord gepleeg.

VLIËNIERS, KUNSTENAARS EN BITTEREINDERS
Brandfort is ‘n klein dorpie in die middel van die Vrystaat. Die dorp is gestig op die plaas Keerom wat vir die eerste keer in 1838 deur Jacobus van Zijl, ‘n Voortrekker van Prins Albert beset is.
Die beroemde skilder Vincent Van Gogh se broer, Cor, is in hierdie dorpie begrawe. Voor Cor vanuit Nederland na Suid Afrika vertrek het, het hy eers ’n besoek aan sy broer Theo in Parys afgelê. Theo het vir Cor ’n paar van Vincent se skilderye as geskenk gegee. Later het Cor uit Suid Afrika geskryf hoe die skilderye sy kamer ophelder. Cor het by die Nederlansche Zuid-Afrikaansche Spoorweg-Maatschapij (NZASM) aangesluit waar hy as tekenaar gewerk het. Frans Oerder, wie later die offisiële oorlogkunstenaar vir die ZAR geword het, het daar saam met Cor gewerk. Tydens die Anglo-Boereoorlog was Cor beseer terwyl hy aan die Boere se kant geveg het. Hy is na Brandfort se hospitaal gebring, en het daar, soos sy broer Vincent, selfmoord gepleeg.
Nog ‘n bekende wat in die dorp gewoon het was John Weston. Hy het die eerste vliegtuig in die Suidelike Halfrond in Brandfort gebou. ‘n Gedenkplaat is in die dorp vir hom opgerig.
Op 13 Desember 2015 galop ons ruiters deur die strate van Brandfort saam met die spoke van die verlede – met veg-generaal De Wet en sy wit spookperd Fleur wat van agter af in hul nekke gaan blaas. Bo hul kloppe sal hul die gebrul van ‘n dubbeldekkervliegtuig hoor en dink aan Cor en ander burgers wat ‘n finale rusplek in Brandfort gevind het.


