BlogsOpinion

Die dorpe – Hennenman: 8 Desember

Die huis van hul vader, PF Hennenman, is in die oorlog met kanonne gebombardeer. Die Hennenman-gesin het agter die huis geskuil. Die kanonne het net 'n paar merke gelaat. Die Engelse het toe besluit om die sterk en buitengewoon groot huis as 'n hospitaal te gebruik.

DIE KRAANVOëLS

Hennenman het oorspronklik bekend gestaan as Midden Sandrivier en deel uitgemaak van die Winburg-distrik.  Op Sondag, 2 Oktober 1899 is alle Vrystaatse burgers tussen 16 en 60 opgekommandeer om deel te neem aan die Anglo Boere oorlog. Die manne van Sandrivier het ’n besondere groepbewussyn gehad – almal het blou bande om hul hoede gedra, en is die  “Kraanvoëls” genoem.

Onder die Kraanvoëls was bekende persone uit die omgewing: Kommandant M Schoeman, Machiel van Rensburg, Thys en Daniel Barnard, Piet en Manie Hennenman en andere. Hulle was deel van die Winburg-kommando wat in twee verdeel is en na twee verskillende fronte gestuur is. Een gedeelte is na Natal en hier het die Sandrivier-burgers aan verskeie veldslae en die beleg van Ladysmith deelgeneem.

Die ander  gedeelte van die Winburg-kommando is na die Kaapse front om deel te neem aan die gevegte van Belmont, Graspan en Tweeriviere. Hierdie botsings het hul hoogtepunt bereik met die groot triomf van die Boere onder Cronje en De La Rey by Magersfontein op 11 Desember 1899.

Hierdie oorwinning het groot offers van Wyk Sandrivier geëis. Manie en Piet Hennenman, die enigste seuns van PF Hennenman na wie die dorp later vernoem was, het eerste hul dienste aangebied toe daar in die hitte van die stryd vrywilligers gevra is om die Skotte terug te dryf. Hulle het daardie dag saam gesneuwel.

Die huis van hul vader, PF Hennenman, is in die oorlog met kanonne gebombardeer. Die Hennenman-gesin het agter die huis geskuil. Die kanonne het net ‘n paar merke gelaat. Die Engelse het toe besluit om die sterk en buitengewoon groot huis as ‘n hospitaal te gebruik. Die Hennenmans is in huisarres geplaas en kon in ‘n deel van die huis bly. Gedurende hierdie tyd, tot aan die einde van die oorlog, is Britse troepe in Sandrivier by Ventersburgweg se stasie langs die spoorlyn gestasioneer om te probeer verhoed dat die Boere dit verwoes en sodoende die Britse verbindingslinie vir proviand  na Kaapstad belemmer.

Behalwe vir die seuns het die Hennenmans ook ‘n dogter gehad. Albertha is na die oorlog met ‘n Engelsman, Edwin Hills, getroud.

Op 8 Desember 2015 ry ons ruiters deur Hennenman langs die spoorlyn oor die klipperige drif van die Sandrivier.  As hul mooi luister hoor hul dalk die veraf gefluit van ’n stoomlokomotief wat in aantog is na die ou Venterburgwegstasie, met die hoefslae van die blouhoed-Kraanvoëlkommando daarlangs. En dalk sien hul ‘n dapper soldaat op sy wit perd wat vol afwagting oppad is na sy boerenooi.

Bron: Moll, J.C. en Eloff, C.C. Die Geskiedenis van Hennenman. Pioniersjare tot 1972. Hennenman: Stadsraad

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button